Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Onstuitbare’ Leibrandt se borgtog teengestaan

Francois Leibrandt se vorige gedrag spreek vanself: Hy is “onstuitbaar” en sal heel moontlik weer ’n misdryf begaan, sou hy borgtog kry.

Geminah Mbelengwa, aanklaer, het Vrydag in die landdroshof in Pretoria-Noord die 24-jarige man se vrylating op borgtog met dié woorde teengestaan.

Leibrandt, sy vriendin Cindy Esterhuizen (26) en ’n vriend, Jacques van der Merwe (32), is sedert hul inhegtenisneming op 24 Junie in aanhouding. Hulle word aangekla van aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat ’n polisiekonstabel, Leon Mentz (33), en sy broer Adriaan (Arrie, 31), op 22 Junie by Die Kantoor – ’n kuierplek in die noorde van Pretoria – aangeval is.

Cindy Esterhuizen koes vir foto’s terwyl sy voor Jacques van der Merwe en Francois Leibrandt na die hof se aanhoudingsel stap tydens ’n verdaging. Foto: Hanti Otto

Esterhuizen en Van der Merwe is Vrydag elkeen borgtog van R1 000 toegestaan.

Leibrandt moes egter ’n formele aansoek bring omdat hy reeds minstens drie hangende hofsake teen hom het. Hy is in elk van die sake op onder meer borgtog of waarskuwing vrygelaat.

Mbelengwa het ’n verklaring van die ondersoekbeampte, ao. Ravi Naidoo, voorgelees wat verduidelik hoe Leibrandt glo die aand van die Mentz-voorval skoor gesoek het waar die broers potspel gespeel het.

Francois Leibrandt (agter) stap uit die beskuldigdebank na die aanhoudingsel. Foto: Hanti Otto

Hy het onder meer sy boarmspiere gesoen met die woorde dat die polisie hom “f****l” kan doen omdat hy “ ’n Leibrandt” is.

Die verklaring het ook verwys na hoe die broers later in die mansbadkamer aangerand is, dat Esterhuizen na bewering die konstabel met ’n bottel oor die kop geslaan en hom ’n “p**s” genoem het en hoe Leibrandt na bewering later ’n gebreekte glas in konst. Mentz se gesig gegooi het.

Luidens die verklaring het Leibrandt glo ook verskeie kere gedreig dat hy die konstabel gaan doodmaak.

Cindy Esterhuizen en Jacques van der Merwe kom met toegegooide koppe by die hofgebou uit nadat hulle op borgtog vrygelaat is. Foto: Isabel Venter

Mentz moes meer as 80 steke in sy gesig kry, twee operasies ondergaan en sukkel met sig in sy een oog.

Die ondersoekbeampte het ook ’n breedvoerige lys van hangende ondersoeke teen Leibrandt voorgelê en bygevoeg dat die beskuldigde net twee dae voor die Mentz-voorval ook op waarskuwing vrygelaat is ná nog ’n beweerde aanranding.

“Die beskuldigde het (vorige) borgtogvoorwaardes verbreek deur ’n soortgelyke misdryf te pleeg terwyl hy op borgtog was. Hy is ’n gevaar vir die publiek,” sê Naidoo in sy verklaring.

Mbelengwa het ook ’n verklaring van die Sinoville se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) voorgelees wat sê hoeveel mense die voorsitter met soortgelyke klagtes oor Leibrandt gekontak het.

“Sy vrylating op borgtog sal skok en woede by die gemeenskap veroorsaak. Die gemeenskap vrees die beskuldigde en vergelding van hom (Leibrandt) af aangesien hy geen vrees vir die polisie het nie,” lui die GPF-verklaring.

Verskeie klaers in sake teen Francois Leibrandt gesels met die Mentz-broers se ma, Jenny, en hul suster, Liezel Nortjé, (vierde en derde van regs) buite die hof. Hulle het almal die borgtogaansoek bygewoon om hul steun teen Leibrandt se vrylating te wys. Foto: Isabel Venter

Die aanklaer het voorts betoog dat al die hangende sake teen Leibrandt ’n element van geweld het.

“Telkens word hy vrygelaat. Nou vra hy vir ’n vierde keer om vrygelaat te word.”

Sy het bygevoeg dat Leibrandt in dié saak “duidelik” die aggressor was.

“As hy ’n opgeleide polisieman, wat dalk ook nog gewapen kon wees, kan aanval, wat van die gewone gemeenskap wat bang is vir hom?” het Mbelengwa gevra.

Leibrandt se advokaat, net bekend as S. Kok (hy wou nie sy naam verskaf nie), het gesê sy kliënt bly saam met sy vriendin (vermoedelik Esterhuizen) en dié se kind. Hy onderhou albei. As ’n boukontrakteur het hy werkers onder hom wat hul werk sal verloor as die maatskappy ondergaan weens sy aanhouding.

Hy kan borggeld betaal met geld wat ’n vriendin vir hom sal leen.

Met verwysing na die hangende sake teen Leibrandt, het Kok betoog dat hy nog nie op enige aanklag skuldig bevind is nie.

“Hy is voorheen geskik vir borgtog bevind en daar is geen bewys dat hy nié sy verhore bywoon of met getuienis inmeng nie. Die beweringe van die GPF is eensydig en subjektief. Dit behoort geen gewig te dra nie,” het Kok gesê.

Uitspraak word voorbehou tot Dinsdag. Leibrandt bly in aanhouding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.