Die onderwyser wat glo verlede jaar die ontvoering van ’n sewejarige meisie van Vanderbijlpark beplan het en as die vermeende baasbrein van die komplot beskou word, gaan skuld beken.
Tharina Human het Dinsdag in die hooggeregshof in Palm Ridge, Johannesburg, aangedui sy wil ’n pleitooreenkoms met die staat aangaan.
Human en haar medebeskuldigdes, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molemohi word van ontvoering, poging tot ontvoering en poging tot afpersing aangekla.
Die meisie (toe ses) is op die oggend van 2 September verlede jaar by haar skool ontvoer toe haar ma haar afgelaai het. Sy is vir 18 uur lank aangehou. Sy is fisies ongedeerd teruggekry.
David Mey, Human se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê Human is gereed om die pleitooreenkoms en die vonnisoplegging af te handel.
Stoffel Venter, Nel se regsverteenwoordiger, het aangedui Nel gaan skuld beken kragtens art. 112 van die Strafproseswet, wat beteken die staat en die verdediging laat die straf in die hof se hande.
Martin Botha, Van Zyl en Molemohi se regsverteenwoordiger het aangedui dat hulle meer tyd benodig om pleitonderhandelings met die staat af te handel.
Regter Keitumetse Mogale het die saak tot Donderdag uitgestel vir die finalisering hiervan.
Nel is op borgtog van R25 000 vrygelaat en Human, Van Zyl en Molehomi bly in aanhouding.

Tharina Human, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bafokeng Molehomi Dinsdagoggend in die beskuldigdebank. Foto: Arisa Janse van Rensburg