Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ontvoerder kry 2 keer lewenslank ná verkragting van kleuters

Hy het twee kleuters soveel moontlik leed aangedoen. Toe het hy sy wreedheid voortgesit met sy skuldontkenning wat hulle gedwing het om die nagmerrie in die hof te herleef.

Die ontvoering en verkragting van twee kleuters van vyf en ses jaar oud is Woensdagoggend só deur regter Irma Schoeman beskryf, kort voordat sy Mlungiseleli Tyane (51) twee keer lewenslank tronk toe gestuur het.

Met sy hande voor hom gevou het Tyane in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Port Elizabeth geluister hoe hy waarskynlik die res van sy lewe agter tralies sal deurbring.

Mlungiseleli Tyane sit Woensdagoggend in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Cara-Lee Dorfling

Op die twee aanklagte van verkragting is hy lewenslank elk gevonnis, terwyl hy vir die twee aanklagte van ontvoering gesamentlik 20 jaar opgelê is en op aanklag van poging tot moord ’n verdere 15 jaar.

Geen melding is daarvan gemaak dat die vonnisse samelopend uitgedien moet word nie.

Mlungiseleli Tyane Woensdagoggend in die hof ná sy vonnisoplegging. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die aanklagte teen Tyane spruit uit ’n voorval op 20 September 2017 toe hy die twee kleuters, net bekend as B (6 jaar oud) en O (5 jaar oud), met skyfies na sy plakkershut in die Chris Hani- informele nedersetting in New Brighton, Port Elizabeth, gelok het. Hier het hy die meisies kaal uitgetrek, hulle vasgebind en anaal verkrag.

Die sesjarige meisie het daarna probeer weghardloop, maar Tyane het haar agternagesit. By ’n onwettige stortingsterrein naby die Ford-stadion het Tyane haar met ’n lap gewurg voordat hy haar tien keer met ’n mes in die gesig en nek gesteek het.

Die vyfjarige meisie was steeds kaal en vasgebind in Tyane se plakkershut. Volgens haar getuienis het Tyane gesê hy gaan haar vermoor, kort voordat hy agter die sesjarige meisie aan is.

’n Soekgeselskap is dieselfde aand nog uitgestuur nadat hul ouers hulle as vermis aangemeld het.

Die sesjarige meisie is kort ná middernag deur ’n polisiebeampte langs die stadion gevind waar sy in ’n plas bloed tussen menslike ontlasting en onder rommel gelê het.

By die Dora Nginza-hospitaal het die polisie inligting van die ma bekom en verdere leidrade opgevolg. Sowat vier uur later is die vyfjarige meisie saam met Tyane op sy bed in sy plakkershut gevind.

Schoeman het met vonnisoplegging vlugtig na die feite van die saak verwys en gesê Tyane het die kinders se vertroue misbruik en hul onskuld geskend.

Lede van die polisie se forensiese eenheid op die toneel waar gemeenskapslede Tyane se plakkershut afgebreek het nadat hy in hegtenis geneem is. Foto: Lulama Zenzile

Omdat hy skuld ontken het, is die twee slagoffers en hul ma’s gedwing om getuienis – wat selfs van die hofpersoneel in trane gehad het – in die hof te lewer.

Uit hul getuienis en die maatskaplike werker se verslag, sê Schoeman dit is duidelik dat albei die slagoffers omvattende berading nodig het, maar weens finansiële uitdagings nie die sessies in Uitenhage kan bywoon nie.

Sy het ook daarop gewys dat die steekwonde se letsels aan die sesjarige kleuter se gesig vir haar ’n daaglikse herinnering aan die gruvoorval is.

“Die beskuldige het gevoelloos teenoor sy slagoffers opgetree en het selfs so ver gegaan as om agterbaks deel te neem aan die soektog na die slagoffers,” het Schoeman gesê.

Die toneel langs die Ford-stadion in New Brighton waar die sesjarige meisie gevind is waar sy onder rommel gelê het. Foto: Lulama Zenzile

Sy het ook geen dwingende en wesentlike omstandighede gevind om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank vir verkragting nie.

Hoewel die voorgeskrewe minimum vonnis vir ’n eerste oortreder van ontvoering vyf jaar is, meen Schoeman dié vonnis is in die betrokke omstandighede geheel en al onvoldoende.

“Twee jong meisies is ontvoer vir seksuele uitbuiting en dit wil voorkom om hulle dood te maak ná die tyd.”

Ná die vonnisoplegging het adv. Megan September-Qatana, die staatsaanklaer, ’n aansoek gebring dat Tyane se naam in die register vir seksoortreders opgeneem word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.