Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ontvoering: Personeel van goudmyne ‘leef in vrees’

Terwyl die nege mans wat daarvan verdink word dat hulle Charmaine Botha van Welkom ontvoer het, tans aansoek om borgtog doen, sê personeel van mynmaatskappye op die Vrystaatse Goudveld hulle leef toenemend in vrees.

Van links is drie van die nege beskuldigdes in die goudontvoering-verhoor: Thumo Taile van Sebokeng, Sechaba Seloane van die Goudveld en Wellington Sithole, moontlik ’n buitelandse burger. Foto: Alet van der Walt

’n Ingeligte in die goudmynbedryf sê werknemers in kernposisies by mynmaatskappye bedank gereeld omdat hulle vir hul veiligheid vrees.

Lede van goudsindikate dreig personeellede af en die ontvoering van Botha laat werknemers nog meer kwesbaar voel.

Botha is op 7 November by haar werkplek in Welkom ontvoer. Haar ontvoerders het kort hierna haar man, Johnny, gekontak en ’n losprys van goud geëis.

Johnny Botha is die bestuurder van Harmony Gold se goudsmeltery by Welkom.

Charmaine is dieselfde aand bevry nadat Johnny, met die toestemming van Harmony Gold, ’n goudstaaf aan haar ontvoerders oorhandig het.

’n Ingeligte sê Johnny wil uit sy pos bedank weens die trauma van die ontvoering.

Ernie Janse van Rensburg, streekhoof van Bidvest Protea Coin Security, het Woensdag namens die staat in Welkom se landdroshof gevra dat die mans in aanhouding bly weens die erns van die misdaad waarvan hulle aangekla word.

Janse van Rensburg het ’n verklaring by die hof ingedien om die omvangryke uitwerking te beskryf wat die onwettige goudbedryf op mynwerkers, die Goudveld as streek en die land se ekonomie het.

Kapt. Karin Herbert van die Valke se getuienis is weens beurtkrag onderbreek en word Donderdag hervat.

Die nege mans is Hlomelang Popa Abram (38), Sechaba Seloana (35), Thumo Taile (38), Kathelo Mototo (32), Tsepo Masasa (36), Musa Seloane (31) en Wellington Sithole, Lovemore Maqebo Ndlovu en Alex Trust Sigauke. Sithole, Ndlovu en Sigauke het nie identiteitsdokumente nie.

Sihle Maake, woordvoerder van Harmony Gold, sê Peter Steenkamp, maatskappyhoof, en Beyers Nel, bedryfshoof, het Welkom ná Botha se ontvoering besoek om werknemers gerus te stel.

Maake sê veiligheidsmaatreëls word opgeskerp en werknemers is gevra om meer paraat te wees.

Maake sê sy glo daar is mense wat bang sal wees ná wat met Botha gebeur het.

Botha ontvang tans berading.

Meer oor:  Charmaine Botha  |  Ontvoering  |  Goudmyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.