Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oog kwyt oor boelie: Skool moes dit keer

’n Hofuitspraak in ’n saak oor ’n graadeentjie wat ’n ander een se oog blind geslaan het, hou verreikende implikasies in vir hoe skole boeliery moet benader, sê kenners.

Die hooggeregshof in Kaapstad het bevind die slaner (wat net as W geïdentifiseer is) was ’n “tikkende tydbom”. Die hof het gehoor nege dae voor die voorval het hy ’n skêr na ’n ander kind gegooi. Sy klasonderwyser het in ’n verslag geskryf: “Sy klasmaats is bang vir hom.”

Volgens getuienis voor die hof het kinders op 18 September 2012 raakrugby op die skoolterrein gespeel. Dit was voor die klasse om 07:30 begin het.

‘Sy klasmaats is bang vir hom.’

W het die ander seun (na wie die hofstukke as U verwys) met sy middelvingerkneukel twee keer op die oog geslaan.

U (nou 16) se pa het aan Rapport gesê sy seun moes ’n operasie ondergaan.

Ander kinders het hom destyds “ ’n bietjie gespot” weens sy blinde oog. Hy dra nou ’n lens om sy blinde oog soos die gesonde een te laat lyk.

Die voorval het hom sku vir mense gemaak. Voorheen was sy kind “woelig” en het hy aan rugby en atletiek deelgeneem.

Hy moes die sport los. “Ons kan nie die kans vat dat hy sy gesonde oog ook verloor nie.”

Sy seun “het bietjie vrede daarmee gemaak” dat sy oog blind is, het die pa gesê.

Hy het namens sy seun ’n eis teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement ingestel. Waarnemende regter Constance Nziweni het einde April bevind die personeel moes voorsien of voorspel het dat W iemand gaan seermaak. Die departement is plaasvervangend aanspreeklik vir die skade. Die bedrag sal later bepaal word.

Die aanrander is in Junie daardie jaar by die skool ingeskryf. Hy het ander leerlinge “konstant” met “ernstige en gevaarlike aggressie” aangerand.

Hy het ’n skêr na ander kinders gegooi, boeke in die klas rondgegooi, op klasmaats gevloek, kinders tydens pouse geslaan en klippe na hul koppe gegooi.

Sy dade is onder die klasonderwyser en die skoolhoof se aandag gebring.

Die klasonderwyser het in ’n verslag oor hom gesê: “Die aanvaarding van dissipline en reëls is vir W ’n groot frustrasie en ’n groot bekommernis vir my, want hy ‘ontplof’ baie maklik.”

Die departement het aangevoer hy het nie ’n sorgplig teenoor kinders wat voor die skooldag begin op die perseel is nie.

Nziweni het egter bevind die skool sluit die perseel se hekke juis vroeër oop sodat die afgelaaide kinders veilig op die terrein kan wees. Die tydperk voor die klok lui en waarin onderwysers vir die dag voorberei, tel as skoolure.

Sy het bevind die skool moes stappe gedoen het om te keer dat hy kinders aanrand. As die skool besluit het om hom te hou, moes hulle hom van naby dopgehou het wanneer hy met ander leerlinge interaksie het, ongeag of die skool al begin het of nie.

Dit was nie voldoende dat die skool dit in die voog se hande gelaat het, met die kind gepraat en verslae geskryf het nie.

Die personeel het hulself blind gehou weens sy jong ouderdom, want hulle “wou die pad met hom stap” en hom nie uit die skool sit nie. Die voog het ook geweier om hom sy medikasie te gee om hom te kalmeer.

Die skool se destydse onderhoof het getuig die skool kan ’n leerling nie eenvoudig weens swak gedrag uitskop nie.

W is voor die einde van 2012 uit die skool en is nie uitgeskop nie. In die klas is sy voorregte wel weggevat en hy is apart van die res van die kinders gehou.

Marius Botha, ’n onderwysbestuurs- en regskonsultant wat skole bystaan met byvoorbeeld dissiplinêre uitdagings, sê die uitspraak skep ’n presedent vir alle skole. Daarom sal die departement moet appelleer sodat daar meer duidelikheid kom oor wat presies van skole verwag word.

Hy sê die probleem is dat daar nie behoorlik by skole boek gehou word van kinders se herhaaldelike boeliegedrag nie. “Daar moet ’n herhaling van gedrag wees om ’n boelie te identifiseer.

“Die skool moet iemand aanstel om boeliegedrag te monitor. Maar onderwysers is toegegooi onder administrasie.

“Wanneer ’n boelie geïdentifiseer word, word die ouers ingeroep. Dan volg ’n gesprek met die ouers en die kind.”

Botha sê die Skolewet bepaal die skoolbeheerliggaam kan voorkomend optree deur die kind vir sewe dae te skors. Dan kan die kind sy saak in ’n verhoor stel. As straf kan die kind ’n verdere sewe dae geskors word. As die beheerliggaam die kind egter uit die skool wil skop, moet hy ’n aanbeveling daaroor by die hoof van die onderwysdepartement doen.

Dr. Jaco Deacon, adjunkvoorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê ook die uitspraak skep ’n presedent.

Wanneer ’n ouer die kind aflaai, is die kind die skool se verantwoordelikheid.

“Dis so in die Grondwet ook vervat – álles moet in die beste belang van die kind gebeur.”

Kerry Mauchline, woordvoerder van die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê die LUR en die departement bestudeer die uitspraak om te besluit of hulle appèlverlof gaan vra.

Meer oor:  Marius Botha  |  Jaco Deacon  |  Kerry Mauchline  |  Boeliegedrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.