Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ooggetuie erken hy’t foto van Packham gesien

’n Tweede ooggetuie wat glo Rob Packham die aand van sy vrou se moord op die toneel gesien het waar sy in haar kar uitgebrand is, het aanvanklik vir die polisie verduidelik dit was ’n mengsel van ’n wit en bruin man, iemand lig van gelaat, tussen 30 en 35 jaar oud.

Kenen Thomas, wat baie naby aan die Dieprivier-treinstasie woon, het Donderdag in die hooggeregshof getuig oor die aand wat hy en sy vriend, Lance Govender, die brandende BMW-voertuig langs die stasie gesien het. Hulle het die huis verlaat en die rook gesien. Thomas het vir sy ma gevra om die brandweer te bel en hulle het in die straat uitgehardloop. Volgens Thomas het hy ’n wit Audi tussen die bome sien staan met ’n man wat agter die stuur gesit het.

Thomas het getuig hy het vir die man in die kar gewaai, omdat hy gedink het die man was eerste op die toneel en dalk het hy die polisie reeds gebel. Hy het onder die lamppaal gestaan terwyl die voertuig begin ry het.

“Die man in die kar het ’n ronde gesig gehad, en hy was skoon geskeer. Hy het baie aggressief gelyk, soos iemand wat gereed is om te baklei,” het hy getuig. Thomas het getuig dat hy en die man sowat ’n meter van mekaar af toe hy verbygery het. “Ons het vir mekaar gekyk en toe ry hy weg.”

Rob Packham sit in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais
Kenen Thomas het Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad getuig. Foto: Jaco Marais

Thomas het twee maande later aan ’n uitkenningsparade deelgeneem en Packham as die man in die wit Audi uitgeken as die man wat die aand by die brandende kar was. Hy het ook Donderdag in die hof vir Packham uitgewys as die man wat die aand by die toneel was, asook wat hy in die uitkenningsparade uitgeken het.

Tydens kruisondervraging het adv. Craig Webster SC, Packham se regsverteenwoordiger, Thomas se verklaring aan hom (Thomas) getoon. In hierdie verklaring het Thomas gesê die man wat hy in die wit Audi gesien het, ’n mengsel tussen ’n wit en bruin man was, iemand lig van gelaat. Thomas het ook geskat die bestuurder was tussen 30 en 35 jaar oud.

Webster het dit aan Thomas gestel dat daar verskeie mediaberigte was op die televisie, op sosiale media en in koerante waar daar foto’s van Packham en sy oorlede vrou was.

Thomas het deurlopend gesê hy gebruik nie sosiale media nie en lees nie koerante nie, maar hy het erken hy het ’n foto van Packham gesien – een waar hy (Packham) se arm om Gill se skouer was.

Hy het hierdie foto gesien voordat hy die uitkenningsparade in April bygewoon het.

Webster het dit aan Thomas gestel dat hy ’n fout gemaak het deur Packham uit te wys as die man wat hy die aand by die brandende kar gesien het. Volgens hom (Webster) was sy kliënt die aand by sy suster waar hy besig was om aandete te eet toe hy (Thomas) hom glo by die uitgebrande kar gesien het. Thomas het hierdie stelling ontken en gesê hy het nie ’n fout gemaak nie.

Meer oor:  Rob Packham  |  Moordverhoor  |  Packham-Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.