Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oom hou vol hy was nie by Rust-moord betrokke

’n Man van Wellington wat skuldig bevind is aan die moord op die Afrikaanse skrywer Winnie Rust in haar huis op dié dorp, hou vol dat hy nie by die moord betrokke was nie.

Johannes Plaatjies het Woensdag tydens versagting van vonnis in die hooggeregshof in Kaapstad getuig: “Ek het nie die moord gepleeg nie, maar was betrokke by die inkopies.”

Nigel Plaatjies (20) en sy oom Johannes Plaatjies (35) is reeds in Desember verlede jaar skuldig bevind aan die moord.

Rust (77) se lyk is op 11 Mei 2016 in die kombuis van haar huis in Wellington gevind.

Hulle het haar vasgebind en vermoor. Daarna het hulle ’n brandende kers voor ’n oop gasstoof gelos in ’n poging om die huis af te brand.

Verskeie artikels is gesteel, waaronder twee goue ringe en skootrekenaars. R5 000 is uit haar bankrekening onttrek.

Daarna is kruideniersware en ’n selfoon met haar bankkaarte gekoop. Johannes het die ringe in ’n pandjieswinkel vir R1 200 verkoop.

Adv. Ken Klopper, Johannes se regsverteenwoordiger, het sy kliënt ’n geleentheid gegee om die Rust-familie toe te spreek.

Johannes het gesê: “Ek wil vir die familie sê ek is jammer oor wat gebeur het met mev. Rust. Ek voel saam wat hulle deurgaan . . . ’n Mens kan nie iemand terugbring nie, dis ’n baie hartseer pyn.”

Nigel Plaatjies (20) en sy oom, Johannes Plaatjies, Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Johannes het gesê dat hy nie juis bekend was met Rust nie en dat hy niks meer van haar kan sê nie, want hy het haar nie geken nie.

Adv. Yasmine Rajap, Nigel se regsverteenwoordiger, het op haar beurt gesê Johannes is niks anders as 'n leuenaar nie.

“U fasiliteer ’n misdryf en kry iemand anders om die vuilwerk te doen. Ek voer ook aan dat Nigel vir al die goed betaal het in u opdrag.”

Maar volgens Johannes het Nigel ’n duur fiets gehad wat hy vir R16 000 verkoop het. Hy het gedink dit is dié geld wat hulle bestee het.

“U lieg vir die hof,” het Rajap gesê.

Adv. Freek Geyser, staatsaanklaer, het Johannes ook probeer oortuig om oop kaarte met die hof te speel deur te erken hy het vooraf geweet van Nigel se planne.

“U bly steeds by u weergawe dat u nie by die huis was nie,” het Geyser gesê, terwyl hy uit ’n bewysstuk, ’n brief wat Johannes vir Nigel geskryf het, gelees het.

Toe Johannes dit ontken, het Nigel slegs sy kop liggies geskud en toe laat sak.

Volgens Johannes het Nigel hom ingelig dat hy ’n “groot ding” beplan, maar dat hy nooit die planne met hom gedeel het nie.

Johannes kon ook nie verduidelik waaroor hy en Nigel gepraat het toe Nigel hom aanhoudend die dag van die moord gebel het nie.

Nigel Plaatjies en sy oom, Johannes Plaatjies, word Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad ingebring. Foto: Jaco Marais

Volgens Johannes het hy ook nie geweet dat die bankkaart, wat Nigel vir hom gegee het om mee klere te koop, Rust se kaart was nie. Op ’n vraag van die aanklaer oor waarom Johannes dink Nigel so vrygewig was met hom, het hy net gesê: “Omdat ek familie van hom is.”

Geyser het Johannes ook gepeper oor hoekom hy in die brief aan Nigel gesê het hy het geweet van die beplanning, die traangas en die feit dat Rust verwurg is.

“Ek het nie geweet wat hy gemaak het nie,” het Johannes gesê.

Nigel, wat nooit voorheen emosies in die hof gewys het nie, het blykbaar Johannes se weergawe amusant gevind en sy hand voor sy mond gehou terwyl hy probeer het om sy glimlag weg te steek.

Regter Elize Steyn het die saak tot Dinsdag uitgestel.

Die staat en die verdediging het vooraf met die regter ooreengekom dat hulle albei hul betooghoofde ten opsigte van vonnis voor die tyd aan die hof sal voorsien.

Meer oor:  Johannes Plaatjies  |  Winnie Rust  |  Nigel Plaatjies  |  Moord  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.