Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oorhandig kind aan pa, stiefma, beslis hof

’n Ma het Dinsdag trane gestort in die Pretoriase hooggeregshof toe haar agtjarige kind uit haar sorg geneem is.

Regter Pierre Rabie het ’n dringende aansoek van die kind se pa en stiefma aangehoor. Hulle het hulle tot die hof gewend nadat hulle maande lank die kind gesoek en hom as vermis by die polisie aangemeld het.

Die ouers kan nie geïdentifiseer word nie omdat die kind minderjarig is en sy identiteit beskerm moet word. Sy stiefma is uit ’n bekende politieke familie.

Sy biologiese ma het hom na Limpopo geneem en by ’n skool daar ingeskryf. Haar regsverteenwoordiger het betoog dat die kind nou gelukkig is.

Toe die kind ongeveer ses maande oud was het sy voogdyskap aan die stiefma gegee. Die stiefma se voogdyskap is in 2015 deur ’n hooggeregshofbevel bekragtig omdat sy na Denemarke sou verhuis en die pa en kind sou saamgaan.

Die ma het hiertoe ingestem omdat sy finansieel nie in staat was om die kind te versorg nie.

Daar moet in die kind se belang opgetree word en daarom is die aansoek dringend.
Regter Pierre Rabie

In 2018 het die gesin na Suid-Afrika gekom om die begrafnis van ’n familielid by te woon en die kind het by sy biologiese ma tuisgegaan.

’n Tweede hofbevel is in die tyd bekom. Ingevolge dié bevel mag die ma haar kind twee keer per week skakel en elke tweede vakansie sien.

Die ma het ook beloof om die kind op ’n spesifieke datum terug te besorg – wanneer die gesin na Denemarke sou terugkeer.

Sy het hom nie terugbesorg nie en hom by ’n skool ingeskryf.

In haar hofstukke sê die biologiese ma dat sy van plan was om aansoek te doen dat die 2015-hofbevel tersyde gestel word.

Sy het gehuil toe Rabie haar Dinsdag beveel het om onmiddellik die kind aan sy pa en stiefma te oorhandig.

“Daar moet in die kind se belang opgetree word en daarom is die aansoek dringend,” het Rabie gesê.

Hy het verder gelas dat die ma van minagting van die hof aangekla word sou sy dié bevel nie gehoorsaam nie. Hy het die balju gemagtig om toe te sien dat sy bevel uitgevoer word indien die ma sou weier.

Die ma is ook aanspreeklik vir die regskoste wat deur die pa en stiefma aangegaan is.

Wat sê die wet?

’n Minderjarige kind mag nie sonder die toestemming van sy biologiese ouers die land verlaat nie, sê prof. Ann Skelton van die Universiteit van Pretoria se kinderregtesentrum.

Ingevolge Suid-Afrikaanse immigrasiewetgewing moet ’n kind onder die ouderdom van 18 jaar se ouers ’n volledige geboortesertifikaat kan toon by ’n doeanepos.

Wanneer ’n kind saam met net een ouer reis, moet dié ouer die sertifikaat asook ’n beëdigde verklaring van die ander ouer toon.

Waar ’n kind saam met sy wetlike voog reis, moet ’n hofbevel wat volle ouerlike verantwoordelikheid en regte toestaan, saam met die geboortesertifikaat getoon word.

Skelton sê indien een ouer nie toestemming gee nie, of in die geval waar ’n ouer dood is, is ’n hofbevel nodig.

Die hooggeregshof is die opperste voog van alle minderjarige kinders en sal eers ’n voog aanwys as bevind is dat die voog sal optree in die beste belang van die kind.

Wanneer ’n minderjarige saam met sy of haar voog reis, moet die biologiese ouer se toestemming steeds verkry word en saam met die hofbevel by die ander reisdokumente gevoeg word.

Meer oor:  Ontvoering  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.