Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Op sy pos ná hy sy kollega skiet

Sers. Marlon Appollis, wat sy kollega sers. David Hoffman glo in Augustus doodgeskiet het, gaan eersdaags terug werk toe.

Marlon Appollis

Maar in die Hoffman-huis in Franschhoek is die Kersliggies wat dié lid van die teen-bende-eenheid in Desember opgehang het, nog nie weggepak nie.

Sy gesin voel uitgelewer – veral ná verskeie vreemde voorvalle en ’n gesprek met sy vrou die dag van sy dood.

“Tot nou toe was daar geen berader van die polisie by ons nie en het die ondersoekers nog nie my selfoon teruggegee nie. Hoekom hou hulle my foon vir twee maande?” vra Ashley Hoffman (39). Sy verstaan steeds nie wat daardie noodlottige aand gebeur het nie.

Die Hoffman-gesin het op Saterdag 17 Augustus by vriende in hul buurt gebraai.

“David het op die nippertjie besluit ons moes vleis gaan koop en vir die kinders braai. Hy het altyd bestuur, maar daardie dag het hy gevra ek moes,” vertel Ashley. “Later het ek besef hy wou sy hande los hê vir as daar moeilikheid was.”

Tydens die braai het ’n vreemdeling by die erf ingehardloop.

“Daar was meer as tien mense met pangas en messe agter hom aan. David het die man probeer beskerm en het met sy rewolwer ’n waarskuwingskoot in die grond geskiet.”

Twee skollies het hom met ‘hello detective’ gegroet.’

David het die Franschhoek-polisie gebel, maar kon geen reaksie kry nie, toe bel sy vrou vir Appollis.

“Mense sê nou vir my as ek hom nie gebel het nie, sou my man nog gelewe het. Hoe kan dit my skuld wees? My vinger was mos nie op die sneller nie. Wat doen mens dan anders as jy bang is?”

Luidens ’n polisieverklaring wat die volgende oggend uitgereik is, was die voorval ’n “ongeluk” en was Appollis die vorige aand besig om sy handwapen by Hoffman se huis veilig te maak toe ’n skoot afgegaan het.

“Nou vra mense hoekom David op ’n Saterdagaand sy rewolwer by hom gehad het, maar hulle ken nie die vrees waarmee polisiemanne en hul gesinne saamlewe nie,” sê Ashley.

Haar gesin het in vrees gelewe sedert haar man by die teen-bende-eenheid aangesluit het.

“Daar was voorvalle wat ons ongemaklik gemaak het wat meer as ’n jaar gelede begin het. Mense het ons huis dopgehou en daar was vreemde konfrontasies met vermeende bendelede.”

Haar man het eers gedink dit kan nie die bendes wees nie.

“Dit was nog te vroeg in die eenheid se bestaan, die skollies het nog nie geweet wie daar werk of wie hulle ondersoek nie. Hy het ook in elk geval elke aand ná werk ’n ander pad huis toe gery,” sê Ashley. Vanjaar het die gevaarligte egter in alle erns vir hom begin flikker.

“Ons het einde Julie gaan klere koop by die Access Park-winkelsentrum naby Stikland. By die sentrum is ons toe na die winkel Cotton On.

“Twee skollies het hom met ‘hello detective’ gegroet. Ons is dadelik na ’n ander winkel toe.”

Daar was hulle die enigste klante.

“David en ’n vriendin se seun het klere in die aantrekkamers gaan aanpas. Terwyl hulle binne was, het twee mans ingekom. Hulle het deur die winkel geloop, maar hul oë was nie op die rakke nie. Ek het die hele tyd nuwe klere vir David gestuur in die aantrekkamer dat hy nie moet uitkom nie,” sê Hoffman.

Nadat haar man betaal het, het hulle verby hul eie motor gestap.

“Die kar was voor die winkel geparkeer, maar David het ons eers laat verbystap. Toe gee hy die sleutel vir my en sê ek moet hom aan die ander kant van die sentrum oplaai, want as daar iets gebeur, moet ek en die kinders nie in sy omtrek wees nie,” sê Ashley.

Die dag van sy dood het David ’n vreemde gesprek met haar gehad.

“Hy het vir my gesê hy het baie inligting, hy weet nie wat hy daarmee moet doen nie. Hy het gesê hy wens ek kon een keer die wêreld deur sy oë sien. ‘Jy ken net die goeie en vertrou mense, ek ken ’n ander prentjie,’ het hy vir my gesê.”

Lt.kol. Andrè Traut van die polisie het Ashley se bewerings oor die gebrek aan ondersteuning ten sterkste ontken.

“Die welstand van ons lede en hul families is ’n prioriteit vir die Wes-Kaapse polisie en die bewering dat ons sers. Hoffman se weduwee gefaal het, is nie waar nie. Weens die ernstige aard van die bewerings sal ons die saak ondersoek,” sê Traut.

Appollis moet weer op 11 November in die hof verskyn op aanklag van strafbare manslag.

Hy het Vrydag bevestig dat hy op 20 Oktober weer by die werk gaan inval.

“Ek weet nog nie of ek teen-bende-eenheid of speurtak toe gaan nie, ek moet nog besluit,” het Appollis gesê.

Daarna het hy Rapport na sy regsverteenwoordiger verwys.

Meer oor:  David Hoffman  |  Marlon Appollis  |  Polisie  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.