Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Opgeskorte vonnis vir pa wat kind van dak afgooi

’n 40-jarige pa van Port Elizabeth wat sy eenjarige kind van sy sinkhuis se dak afgeslinger het, is Woensdag ’n opgeskorte vonnis opgelê nadat hy skuld beken het.

Die pa, wie se naam weerhou word om sy kind se identiteit te beskerm, het skuld beken op ’n aanklag van kindermishandeling. Dit hou verband met ’n voorval op 12 April 2018 toe hy sy eenjarige dogtertjie van sy sinkhuis se dak in die Joe Slovo- informele nedersetting in Port Elizabeth afgeslinger het.

Hy is gevonnis tot ’n boete van R5 000 of 12 maande tronkstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Die oomblik toe ’n pa van die Joe Slovo- informele nedersetting in Port Elizabeth sy eenjarige dogtertjie van hul plakkershut se dak afgeslinger het. Die pa is Woensdag ’n opgeskorte vonnis opgelê vir kindermishandeling. Die kind se gesig word ingevolge wetgewing verbloem om haar identiteit te beskerm. Foto: Lulama Zenzile

Getuies het Woensdag gereed gestaan by die landdroshof in New Brighton om getuienis oor dié dag vol drama te lewer. Hulle het egter vergeefs gewag, want Siphelo Gila, die man se regsverteenwoordiger, het aangedui sy kliënt gaan skuld beken.

Die man is vroeër van poging tot moord aangekla, maar die aanklag is kort ná sy eerste hofverskyning in kindermishandeling verander.

Die pa is destyds in hegtenis geneem, oomblikke nadat hy sy dreigement uitgevoer het om sy kind van die sinkhuis se dak af te gooi omdat die munisipaliteit dit wou platslaan. ’n Polisiebeampte het nog probeer om met die pa te onderhandel, toe gooi hy die kind.

Konst. Luyolo Nojulumba van die metropolisie het die kind net betyds gevang en die man is op die hut se dak platgeduik en geboei. Die kind se ma is ook aanvanklik in hegtenis geneem, maar is later vrygelaat.

Tracy Brown, staatsaanklaer, het met die aanvang van die verhoor gesê ’n maksimum vonnis vir eerste oortreders is tien jaar tronkstraf en of ’n boete.

Gila het Woensdag die pa se pleidooi aan die hof voorgehou waarin hy sê die pa erken sy optrede was verkeerd en onwettig, en dat hy uit desperaatheid opgetree het.

Volgens die pa sou hy en sy gesin die naweek voor die voorval by die plakkershut intrek. Hy het die hut gebou nadat hy en sy gesin by ’n ander plakkershut uitgeskop is en inderhaas ’n ander blyplek moes kry.

Hy erken hy het die dag van die slopings sy kind gebruik om met die polisie te probeer onderhandel.

“Ek het gedink as die polisie my kind sien, sal hulle my hut red. My optrede was ’n kreet om hulp. Dit was my enigste huis, waar ek my familie kon veilig hou,” het Gila namens die pa aangevoer.

Volgens hom het die pa die kind gegooi met die idee dat die ma hul kind sou vang.

Gila het aan die hof gevra om in gedagte te hou dat die ma van die kind op die grond, langs die hut was, en die hele hut deur polisie en gemeenskapslede omring was.

“Ek is jammer oor my optrede, ek is jammer teenoor almal wat hierby betrokke was. Ek is lief vir my kind en familie,” het die pa in sy pleidooi aangevoer.

Nadat die hof die pa skuldig bevind het, het Gila gesê ’n vonnis van direkte tronkstraf sou, gegewe die omstandighede, nie gepas wees nie.

“Party sien dit dalk as ’n hut, maar vir die man was dit sy huis, die enigste plek waar hy en sy familie kon slaap.

Mzaidume sê hoewel hy die frustrasie van mense wat onwettig plakkershutte oprig verstaan, kan hy die optrede nie goedpraat nie omdat dit wetteloosheid aanmoedig.

“Dié saak hou verband met diensleweringsprobleme. Die tekort aan grond vir behuising is geen geheim nie.

“Selfs die maatskaplike werker het die kind weer terug in die sorg van die ouers geplaas, wat aandui dit is veilig daar. In dié geval sal ’n opgeskorte vonnis gepas wees.”

Tracy Brown, staatsaanklaer, het met die aanvang van die verhoor gesê ’n maksimum vonnis vir eerste oortreders is tien jaar tronkstraf en of ’n boete.

Sy sê die pa moes kon voorsien sy kind sal seerkry, indien niemand die kind gevang het nie.

Hoewel die staat toegee dat daar behuisingsprobleme bestaan, het Brown aangevoer die saak gaan oor ’n kind.

Sy sê ’n eenjarige kind se bene is broos en die pa se optrede was ongevraagd.

“Die voorval kon soveel anders geëindig het. Gelukkig vir die beskuldigde het die kind nie seergekry nie. En die beskuldigde aanvaar verantwoordelikheid vir die voorval.”

Brown het gesê gegewe die omstandighede sal ’n opgeskorte vonnis gepas wees.

Met vonnisoplegging het landdros Sonwabo Mzaidume die pa se optrede as afskuwelik bestempel.

Mzaidume sê hoewel hy die frustrasie van mense wat onwettig plakkershutte oprig verstaan, kan hy die optrede nie goedpraat nie omdat dit wetteloosheid aanmoedig.

Hy sê al wat in die pa se guns tel, is dat niemand seergekry het nie, hy ’n eerste oortreder is, die maatskaplike werker aangedui het dat sy optrede nie ’n swaar vonnis verg nie en dat hy die enigste broodwinner vir hom, sy vrou en vyf kinders is.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Hof  |  Dak  |  Kindermishandeling  |  Sikhuis  |  Afgooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.