Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Dit was 'n opslagkoeël, sê Rooimier

Daar was Woensdag nie plek vir ’n muis in die streekhof in Vereeniging nie, waar die veiligheidswag, wat beskuldig word van die moord op Danie van Heerden van Meyerton in Gauteng, vir borgtog aansoek gedoen het.

Sabelo Dlamini (41), ’n veiligheidswag verbonde aan die Rooimiere, Woensdag in die stampvol streekhof in Vereeniging. Foto's: Jana Marx

Sabelo Patrick Dlamini (41), ’n lid van die Rooimiere word aangekla van moord en die rig van ’n vuurwapen nadat hy Van Heerden na bewering tydens ’n woordewisseling doodgeskiet het.

Thomas Mahlobogoane, van BMH Attorneys, het die borgtogaansoek namens Dlamini gebring.

Dlamini het by monde van sy regsverteenwoordiger die aanklagte teen hom ontken en hou vol hy het waarskuwingskote afgeskiet. As Van Heerden deur ’n koeël getref is, was dit ’n opslagkoeël, het Mahlobogoane gesê.

Luidens Dlamini se eedsverklaring was daar ’n “onderonsie” tussen hom en Van Heerden.

“Die oorledene het geskree en gedreig om my seer te maak. Hy het my motorsleutels afgevat en na sy motor geloop. Ek het ’n waarskuwingskoot geskiet . . . Ek is nie seker hoe hy raakgeskiet is nie,” het hy in die verklaring gesê wat aan die hof voorgehou is.

KYK HIER NA DIE VIDEO VAN DIE VOORVAL.

Dlamini, oorspronklik van KwaZulu-Natal, werk sedert 2001 in die veiligheidsbedryf en is sedert 2011 in diens van die Rooimiere.

Mahlobogoane het verder genoem dat Dlamini 20 jaar met sy vrou getroud is en drie kinders tussen die ouderdom van 12 en 19 jaar het, wat saam met hom in die huis bly.

Hy het benadruk dat Dlamini se vrou werkloos is en die hele huishouding van Dlamini, wat R12 500 per maand voor aftrekkings verdien het, afhanklik is.

Dlamini het geen vorige skuldigbevindings teen hom nie. Hy is intussen deur die Rooimiere geskors, maar word nog finansieel deur sy werkgewer gesteun.

Adv. Leanie Hattingh, namens die staat, het die borgaansoek teengestaan en uitgewys dat Van Heerden nie gewapen was nie. Sy het volgehou die staat het ’n sterk saak en twee sleutelgetuies.

Die stampvol streekhof in Vereeniging, waar die veiligheidswag wat daarvan beskuldig word dat hy Danie van Heerden, ‘n geliefde inwoner van Meyerton, doodgeskiet het, om borgtog aansoek doen. Amper al Van Heerden se 13 kinders was in die hof.

Hattingh het verder na drie petisies deur die familie en gemeenskap gewys, met onderskeidelik 3 450, 900 en 545 ondertekenaars om borgtog te verhoed. Sy het benadruk die gemeenskap kan moontlik die beskuldigde vermoor as sy borgtog toegestaan word omdat daar reeds ’n video op sosiale media die ronde doen (waarin sy gesig duidelik sigbaar is).

Mahlobogoane het op sy beurt gesê as die aansoeker die oorledene wou skiet, hy nie eers die motorband sou skiet nie.

Wat die petisie betref, het Mahlobogoane aangevoer dat die petisies grootliks deur wit mense onderteken is en die streeklanddros versoek om dit in gedagte te hou met haar uitspraak. Die staat het dié stelling ontken en gesê dat die petisie deur mense “oor Suid-Afrika heen” onderteken is.

“Ek wil dit nie in ’n rassistiese storie laat ontaard nie, want dit kom daarop neer dat twee mense op die bepaalde dag ’n situasie verkeerd hanteer het,” het Mahlobogoane gesê.

Die staat het een van die getuies, wat minderjarig is, se weergawe aan die hof voorgehou en gesê hy sal getuig Van Heerden het langs die pad stilgehou toe hy glo sien Dlamini en ander laai onwettig vleis uit ’n vragmotor. Toe hy Dlamini daaroor konfronteer, het die ander mans die vleis in die vragmotor teruggesit en daarmee weggery.

Die getuie sal verder getuig Dlamini het eers die motor se band geskiet en later sy pa langs die Van Heerdens se voertuig kom skiet.

In die video wat aan Netwerk24 verskaf is, beskuldig Dlamini Van Heerden daarvan dat dié hom probeer kaap het.

Van Heerden het voorheen ’n veiligheidsonderneming besit, maar was met sy dood ’n pensioentrekker. Hy het egter nog uitgehelp by sy seun Rudolf (39) se veiligheidsonderneming.

Van Heerden word deur 13 kinders oorleef.

Streeklanddros Retha Willemse sal na verwagting Woensdagmiddag uitspraak lewer.

Meer oor:  Danie Van Heerden  |  Vereeniging  |  Landdroshof  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.