Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Organisasies in hof oor identiteit van kinders
Foto ter illustrasie. Foto: Alet Pretorius, Gallo

Vier organisasies se hofaansoek om die identiteit van kindergetuies en -misdadigers lewenslank geheim te hou, begin Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria.

Regter Wendy Hughes gaan dié aansoek van die Sentrum vir Kinderreg (CCL), Childline, Nimro en Media Monitoring Afrika aanhoor.

Die aansoek word gebring teen 12 mediahuise, onder wie Media24 aan wie Netwerk24 behoort.

Die CCL sê in ’n mediaverklaring die wet beskerm die identiteit van kinders wat in die hof getuig en kinders wat misdade pleeg.

“In onlangse jare het die media begin om te interpreteer dat dié beskerming wat die wet bied, eindig wanneer ’n kind 18 jaar oud word (dus volwasse). Die media het gedreig om die identiteit van die ontvoeringslagoffer Zephany Nurse te onthul en ’n dringende hofaansoek moes gebring word om te keer dat dít gebeur,” sê CCL.

Dít het gelei tot ’n groter hofsaak wat deur die vier organisasies en deur Zephany gebring is.

Na Zephany is in hofstukke slegs verwys as KL.

Die sentrum sê die wet moet ook kinderslagoffers (soos Zephany) teen identifikasie beskerm en nie net getuies en misdadigers nie.

Voorts moet die beskerming van al drie kategorieë van kinders voortgaan ná die ouderdom van 18 jaar. Net ’n hof behoort te besluit of inligting wat die identiteit ná 18 jaar blootlê, gepubliseer mag word.

Media24, Independent Media en Times Media staan die hofaansoek teë.

Dié mediahuise meen kinderslagoffers se name behoort nie weerhou te word nie, tensy hulle getuies in die hof is. Hulle meen ook dat al drie kategorieë se name gepubliseer moet kan word ná die ouderdom van 18 jaar.

CCL sê dié hofsaak is die tweede helfte van die Zephany Nurse-saak wat in 2015 aangehoor is.

“Toe Zephany ’n baba was, is sy deur ’n vrou wat nie haar biologiese ma was nie, geneem en grootgemaak.”

Toe sy 17 jaar oud was, is sy deur haar biologiese ouers ontdek. Haar ontvoerder is in Augustus 2016 skuldig bevind en tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Zephany Nurse is die naam wat in die media genoem word, hoewel dit nie haar regte naam is nie.

Die vier organisasies sê hulle wil kinders se privaatheid, waardigheid en beste belange beskerm - hetsy hulle slagoffers, getuies of misdadigers is.

Die organisasies gaan daarom die hof vra dat art. 154(3) van die Strafproseswet (wat bepaal dat misdadigers en getuies se identiteit tot 18 jaar beskerm moet word), ongrondwetlik is.

Meer oor:  Independent Media  |  Childline  |  Media24  |  Zephany Nurse  |  Pretoria  |  Hofaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.