Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oud-Bloem-makelaar wat glo bedrieg ook in Kaap in hof

’n Gewese makelaar van Bloemfontein wat in die Rosestad op meer as 200 aanklagte van bedrog van meer as R20 miljoen tereg staan, is nou ook in Kaapstad in ’n hofsaak gewikkel – dié keer om ’n uitsettingsbevel te beveg.

Jaco Cloete (44) moes op 12 Julie in die streekhof in Bloemfontein op meer as 200 aanklagte van bedrog en oortredings van die Bankwet verskyn. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik nadat hy nie vir die verhoor opgedaag het nie.

Dié lasbrief word tot Augustus oorgehou, wanneer hy weer in die hof in Bloemfontein moet verskyn.

Dié saak hou verband met beleggings van sowat R25,5 miljoen wat hy glo van 2005 tot 2009 van talle mense in Bloemfontein en elders in die land ontvang het en waarop hy opbrengste van tot 18% en 24% per jaar aangebied het.

Lees ook: Lasbrief vir gewese makelaar van Bloem se arrestasie

Intussen is hy besig om ’n uitsettingsbevel in die hooggeregshof in Kaapstad te beveg nadat die landdroshof op Atlantis bevind het hy en sy gesin is onwettige besetters.

Dit hou verband met eiendom in Melkbosstrand waarop Cloete en sy gesin sedert 2011 woon.

Donald Hallgreen-Pauli besit die eiendom – luidens hofstukke 172A Weskusweg, Cape Farms – deur sy trust, NobodyHome Investments.

Hallgreen-Pauli het in Oktober 2018 ’n aansoek by die landdroshof in Atlantis ingedien om Cloete en sy vrou, Monique, van die perseel te laat uitsit nadat hulle jare lank nie die huur of die munisipale rekeninge betaal het nie.

Uit hofdokumente blyk dit Cloete het in Oktober 2011 ’n drie jaar lange huurooreenkoms met Hallgreen-Pauli onderteken waarvolgens hy R13 000 per maand asook die munisipale rekeninge moes betaal.

In Januarie 2012 het Cloete ’n koopaanbod van R5 miljoen vir die eiendom gemaak wat van Desember 2012 tot Desember 2015 geldig en betaalbaar was. Daar was ook ’n klousule waarvolgens Cloete, indien hy meer tyd nodig gehad het, Hallgreen-Pauli deur middel van ’n kennisgewing kon versoek om verlenging tot Desember 2017 te kry.

Ingevolge die aanbod kon Hallgreen-Pauli nie verantwoordelik gehou word vir enige verbeteringe wat in dié tyd aan die eiendom aangebring is nie.

Koopaanbod verval

Cloete het luidens die hofdokumente versuim om skriftelik kennis te gee om die tydperk van betaling na 2017 te verleng en die koopaanbod het verval. Sedert 1 Oktober 2018 het hy egter opgehou om die huur of enige ander betalings te maak.

Hallgreen-Pauli het Cloete middel van prokureurs nog ’n paar kanse gegee om die eiendom te koop. Dit het nie gebeur nie en die hofproses vir die uitsettingsbevel het begin.

Hallgreen-Pauli het in sy aansoek gesê hy word erg finansieel benadeel deur Cloete wat steeds op die eiendom woon en nie huur of die munisipale rekeninge betaal nie. In 2019 was die skuld op die erf sowat R190 000, waarvoor Hallgreen-Pauli verantwoordelik gehou word.

Cloete het in sy repliek gesê hy is en was met die ondertekening van die kontrak onrehabiliteerbaar insolvent en kan daarom nie as party in die saak gelys word nie.

Die hof was nie hiermee beïndruk nie en het Cloete daarop gewys dat hy dus met die ondertekening van die kontrak geweet het hy kon as insolvent nie so ’n kontrak sluit nie.

Cloete het ook gesê sy vrou, Monique, het meer as R7 miljoen bestee om die eiendom te verbeter. Sy het glo ’n hele nuwe gebou op die eiendom gebou waaruit sy haar onderneming bedryf.

Cloete het aangevoer hulle het ’n mondelikse ooreenkoms met Hallgreen-Pauli gehad om die ekstra gebou op te rig terwyl hulle op die eiendom woon en dat Hallgreen-Pauli hulle sou terugbetaal.

Die hof het egter bevind Cloete en sy gesin beset die eiendom onwettig.

Verder het Cloete geen bewyse aan die hof voorgelê dat Monique werklik R7,7 miljoen bestee het nie. Daarby lui ’n kontrak wat op 25 Maart 2015 deur partye onderteken is, dat geen verdere verbeteringe aangebring mag word nie.

Onwettige besetters

Die hof het bevind dit blyk Cloete se vrou is ’n direkteur van drie maatskappye wat baie suksesvol is. Hulle het nie in die saak aangevoer dat hulle haweloos sou wees as hulle uitgesit sou word nie.

Die hof het in Desember 2019 bevind Cloete en sy gesin is onwettige besetters. Die saak is uitgestel sodat die partye die hof kon toespreek oor hoe Hallgreen-Pauli sekuriteit sal kan voorsien indien Monique dalk ’n eis teen hom sou indien vir die koste van die bykomende gebou wat sy op die eiendom opgerig het.

Hallgreen-Pauli het R250 000 as sekuriteit gebied wat die hof aanvaar het, asook ’n brief van sy rekenmeester as waarborg vir die res van die geld. Dit is nie bekend wat die presiese waarborgbedrag is nie.

Gevolglik kon daar met die uitsetting voortgegaan word.

Charl May, direkteur van BDP Attorneys en Cloete se regsverteenwoordiger, sê Cloete was nie tevrede met net ’n brief van ’n rekenmeester nie. Hy wou hê die hof moet ’n bankwaarborg kry.

Cloete het ook ’n aansoek ingedien om die landdros se uitspraak ter syde te stel. Dit is van die hand gewys, waarop Cloete die hooggeregshof genader het.

Volgens May sou die saak op 11 Junie aangehoor word, maar dit is uitgestel na later vanjaar.

Indien Cloete suksesvol is, sal Hallgreen-Pauli ’n bankwaarborg moet verskaf, maar as Cloete se aansoek misluk, sal die uitsettingsbevel uitgevoer kan word.

Cloete wou nie enige kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Jaco Cloete  |  Makelaar  |  Hof  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.