Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oud-Koevoetlid: 3 laat vaar skielik borgtog-aansoek
Corné de Beer (33) van Sasolburg, Richardt “Jagter” Botha (35) van Vanderbijlpark en Wayne van der Walt (35) van Vereeniging in die beskuldigdebank in die landdroshof in Pretoria-Noord. Foto: Deaan Vivier

Die vrou en twee mans wat in verband met die verdwyning en vermeende moord van die oud-Koevoetlid Chris Barnard in hegtenis geneem is, het Vrydag uit die bloute hul borgtogaansoek laat vaar.

Dit ten spyte daarvan dat hulle blykbaar ’n probleem het met die omstandighede in die tronk waar hulle aangehou word.

Corné de Beer
Corné de Beer, vermoedelik die meisie wat Chris Barnard op Facebook bevriend het terwyl hy in Irak was, kom die trappe vanuit die aanhoudingselle op na die hofsaal. Foto: Deaan Vivier

Corné de Beer (33) van Sasolburg, Richardt “Jagter” Botha (35) van Vanderbijlpark en Wayne van der Walt (35) van Vereeniging wou al die afgelope Maandag in die landdroshof in Pretoria-Noord om borgtog vra.

Die borgtogaansoek is op die staat se versoek uitgestel na Vrydag omdat dié die aansoek sou teenstaan en die polisie tyd benodig het om al die ondersoekwerk hiervoor af te handel.

Die beskuldigdes se prokureur, Kobus Burger, het dit toe al op rekord geplaas dat ’n borgtogaansoek as dringend beskou word en dit ’n beskuldigde se grondwetlike reg is om so gou as moontlik een te bring.

Vrydagoggend was die verdagtes nog vasbeslote om daarmee voort te gaan.

Toe word die hoof-ondersoekbeampte, lt.kol. Alet Pratt, se lywige verklaring met redes waarom sy die beskuldigdes se borgtogaansoek teenstaan, aan die verdediging beskikbaar gestel.

Die prokureur het toe sy kliënte gekonsulteer. Toe die saak geroep word, het hy aan landdros Pierre Wessels gesê: “Ek het instruksies van die beskuldigdes om nié in hierdie stadium met die aansoek voort te gaan nie. Ek kan nie nou die redes daarvoor aan die hof openbaar nie.”

Die prokureur het ook gesê dat hy met die ondersoekbeampte sal praat “rakende ’n sekere toekomstige ondersoek”.

Toe voeg hy by: “Daar is iets wat die beskuldigdes (die twee mans) onder my aandag gebring het rakende die toestande van hul aanhouding in die tronk.

“Hulle sê hulle moet in die sel (vir verhoorafwagtendes) ’n bed koop teen R1 000, anders moet hulle op die grond saam met 13 tot 15 ander mense slaap.”

Wessels het gesê hy teken dit aan, en beveel aan dat Burger die probleem met die departement van korrektiewe dienste opneem, en as dit nie help nie, die hooggeregshof nader.

Chris Barnard
Die oud-Koevoetlid en Irak-veiligheidswerker Chris Barnard.

Die saak is toe uitgestel vir verdere ondersoek en die beskuldigdes bly in aanhouding.

Dié verdere ondersoek sluit die soektog na Barnard in.

Hoewel ’n aanklag van moord vroeër teen die beskuldigdes gevoeg is, en ten spyte van uitgebreide soektogte, word hy steeds vermis.

Die laaste wat Barnard se familie met sekerheid met hóm kontak gehad het, was op 6 Desember verlede jaar.

Die groot geboude man werk vir ’n Amerikaanse veiligheidsmaatskappy in Irak. Hy het op 1 Desember vir vakansie na Suid-Afrika gekom.

Teen om en by 5 Desember het hy ’n “vriendin” wat hy vroeër op Facebook ontmoet het, in Vanderbijlpark gaan haal om by hom te kom kuier.

Kort daarna het die familie “vreemde” boodskappe van Barnard se foon af gekry en het hulle gaan ondersoek instel.

Die huis in Annlin, Pretoria, waar hy gebly het, was geplunder.

Corné de Beer
Corné de Beer wag op die trap van die aanhoudingselle voordat sy sou opgaan na die hofsaal. Foto: Deaan Vivier

De Beer en Botha is op 24 Desember in hegtenis geneem en Van der Walt op 30 Desember.

Barnard se foon, voertuig, bankbesonderhede en die gesteelde huisware is glo in hul besit gekry.

Hulle word dus ook van huisbraak met die opset om te steel en diefstal, sowel as die diefstal van Barnard se voertuig, aangekla.

Barnard se familie het vroeg reeds die hulp van private ondersoekers, insluitende ’n voormalige lid van polisie-intelligensie, ingeroep.

Die polisie het ook ’n top-ondersoekspan aangestel.

Barnard se swaer, De Wet van Wyk, het Vrydag ná die hofsaak opgemerk: “Iets in die ondersoekbeampte se verklaring moes die verdagtes laat besef het dat hul borgtogaansoek nie suksesvol gaan wees nie. Ons is baie tevrede met die polisieondersoek”.

Hy het bygevoeg dat die familie “nie vir ’n oomblik” sal ophou soek na Barnard nie.

Barnard se gewese vrou het ook die hulp van die private ondersoeker Mike Bolhuis ingeroep.

“Ek wil net hê hulle moet vir Chris vind – of hy lewe of nie. Ek en hy het steeds kontak gehad en daar is baie mense wat lief is vir hom en antwoorde soek,” sê sy.

* Mense met inligting kan sers. Ferreira bel by 071 675 7373, of Mike Bolhuis se ondersoekers: Vince Harris by 082 673 1830 of Luke Enslin by 082 222 5821.

Meer oor:  Chris Barnard  |  Inhegtegisname  |  Vermis  |  Oud-Koevoetlid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.