Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oud-Koevoetlid: Moordklag op klagstaat teen 3 bygevoeg
Die kennisgewing van die vermiste Chris Barnard met sy besonderhede.

Chris Barnard het die destydse “Bosoorlog” oorleef, hy het drie jaar in Irak oorleef – net om tydens ’n kort vakansie in Suid-Afrika “vermoedelik” vermoor te word.

Hoewel die oud-Koevoetlid, wat vir ’n blaaskans as veiligheidswerker in Irak vir ’n vakansie na Suid-Afrika teruggekeer het, nog nie gevind is nie, was dít die mening van talle mense nadat ’n moordaanklag in die landdroshof in Pretoria-Noord teen drie beskuldigdes bygevoeg is.

Dit blyk ook dat nóg aanklagte teen Corné de Beer (33) van Sasolburg, Richardt “Jagter” Botha (35) van Vanderbijlpark en Wayne van der Walt (35) van Vereeniging kan volg.

Die foto wat Chris Barnard van hom en die Facebook-vriendin aan familie gestuur het.

De Beer en Botha is op 24 Desember in hegtenis geneem nadat Barnard se familie onraad vermoed het.

Van der Walt is op 30 Desember vasgetrek.

Barnard se foon, voertuig, bankbesonderhede en sy suster se gesteelde huisware is glo in hul besit gevind.

Die fors geboude Barnard (54) se familie vrees dat hy dalk die slagoffer was van ’n “lokval” waarin ’n meisie op sosiale media vriende maak met mans wat ver van geliefdes af werk en goed geld verdien, en hulle dan uit daardie geld bedrieg.

Corné de Beer tydens ’n vorige hofverskyning. Die vlegseltjies was Maandag weg. Foto: Verskaf

De Wet van Wyk, Barnard se swaer, het vroeër gesê Barnard het op 1 Desember uit Irak, waar hy vir ’n Amerikaanse veiligheidsmaatskappy werk, na Suid-Afrika gekom.

Hy het hulle vertel dat hy ’n meisie op Facebook ontmoet het en haar in die Vanderbijlpark-omgewing sou gaan oplaai om te kom kuier.

Sy familie was in daardie stadium vir ’n vakansie op pad na Mosambiek. Barnard het in hul Pretoria-huis tuisgegaan en vir die familie ’n foto van hom en die meisie gestuur nadat hy haar op 5 Desember gaan haal het.

Hy het vermoedelik op 7 Desember “verdwyn”, want sedert die volgende dag het sy familie “vreemde” boodskappe ontvang vanaf sy nommer waarin hy onder meer die wagwoord vir sy eie internet-bankrekening vra.

Richardt “Jagter” Botha. Sy Facebook-profiel is intussen ná ’n vorige berig deur Netwerk24 verwyder. Foto: Facebook

Nadat die boodskappe al vreemder geword het, het Van Wyk ’n familielid gevra om ondersoek by hul huis te gaan instel.

Dié het gevind dat die huis “byna leeggedra” is.

Van Wyk het Barnard as vermis aangemeld en die drie beskuldigdes is met die hulp van die Sinoville-polisie aangekeer.

Die drie is oorspronklik net van ’n huisbraak op 7 Desember met die opset om te steel en diefstal te pleeg, asook van die diefstal van Barnard se voertuig tussen 7 en 23 Desember aangekla.

’n 2018-gedateerde foto van Wayne van der Walt, wie se hare sedertdien langer is. Foto: Facebook

Maandag was daar egter ’n derde aanklag op die klagstaat: moord (die plek en spesifieke datum onbekend).

Adv. Tumisho Maleka, ’n spesiaal-toegewysde aanklaer van die direkteur van openbare vervolgings se kantoor, het in die hof gevra dat die saak uitgestel word “omdat nog aanklagte (teen die beskuldigdes) bygevoeg gaan word”.

Kobus Burger, prokureur vir die beskuldigdes, het ingestem tot die uitstel, maar die hof daaraan herinner dat ’n borgtogaansoek as “dringend” beskou word.

Hy het bygevoeg dat die twee mans, volgens hom, deur die polisie aangerand is en dat al drie beskuldigdes “geïntimideer word om hulself te inkrimineer”.

Daarby, het Burger gesê, is die beskuldigdes verlede Vrydag sonder sy medewete na die hof geneem, waar die aanklag van moord bygevoeg is.

“Hulle is nie toegelaat om my of hul familie te bel nie. Op 11 Januarie (Saterdag) is beskuldigde 2 (Botha) uit die aanhoudingsel in Pretoria geneem vir ’n ondersoek in Vanderbijlpark, ten spyte daarvan dat hy regsverteenwoordiging het,” het Burger bygevoeg.

Hy het ook ’n foto getoon van hoe die boeie glo Botha se gewrigte beseer het omdat dit te styf vasgemaak was.

Chris Barnard wat sedert 7 Desember vermis word. Sy familie vrees dat hy vermoor is.Foto: Verskaf

Die prokureur het aangevoer dat hy nie met sy kliënte kon konsulteer nie omdat die hoofondersoekbeampte, ’n luitenant-kolonel, opdrag gegee het dat niemand die beskuldigdes mag besoek nie.

Maleka het hierop geantwoord dat die polisie binne sy mandaat opgetree het om die ondersoek te doen.

Landdros Pierre Wessels het beveel dat daar nie met die beskuldigdes gekonsulteer mag word sonder dat hul prokureur teenwoordig is nie.

Intussen het meer as 90 mense Sondag ure lank ’n stuk veld naby Annlin, Pretoria, gefynkam in die hoop om Barnard te vind.

Dit was die laaste plek waar ’n sein vanaf sy selfoon in Pretoria ontvang is voordat dit in Vanderbijlpark gebruik is.

Die soektog is laataand afgelas.

* Mense met inligting kan sers. Ferreira by 071 675 7373 bel.

Meer oor:  Chris Barnard  |  Moordklag  |  Oud-Koevoetlid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.