Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oud-konstabel skuldig ná man met sy wapen vermoor is

’n Voormalige polisieman wie se dienspistool in ’n moord gebruik is, is nie aan moord skuldig bevind nie, maar wél aan strafbare manslag.

Walter Francis (31), ’n voormalige konstabel verbonde aan die Humewood-polisiekantoor in Port Elizabeth, het op die moord van Denton Rademeyer (32) tereggestaan.

Walter Francis, ’n voormalige polisiebeampte van Port Elizabeth, Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth nadat hy aan strafbare manslag skuldig bevind is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Hy is ook aangekla van die verskaffing van ’n vuurwapen en ammunisie aan ’n persoon wat nie gemagtig is om ’n vuurwapen of ammunisie te besit nie.

Hy is Woensdag ook op dié aanklag in die hooggeregshof in Port Elizabeth vrygespreek.

Regter Jannie Eksteen het bevind dat die adres, tyd en konteks waarvolgens die staat dié aanklagte probeer bewys het, nie ooreenstem met die getuienis van die getuies en Francis – wat erken het dat hy die wapen aan Shane Potberg (34) gegee het – nie.

Rademeyer is op die aand van 26 Oktober 2014 voor ’n huiswinkel in Bethelsdorp met Francis se dienspistool doodgeskiet.

Francis het op die aand van 25 Oktober 2014 saam met Potberg, Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29) in Potberg se huis gekuier. Hulle is almal aanvanklik op die moord op Rademeyer aangekeer.

Potberg is in Februarie 2016 doodgeskiet terwyl hy op borgtog was. Kroates en Kogana is albei in Mei vanjaar op aanklagte van moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie vrygespreek.

Francis het getuig dat hy die betrokke aand sy dienspistool by sy huis gaan haal het nadat daar ’n skietvoorval by Potberg se huis was.

Hy het getuig dat hy sy dienspistool en ammunisie aan Potberg oorhanding het en hom gevra het om dit veilig te bêre terwyl hy die beseerde persoon hospitaal toe geneem het.

Volgens Francis het hy vergeet om sy vuurwapen ná die hospitaalbesoek te gaan haal en hy het Potberg die volgende oggend gevra om die wapen terug te bring, aangesien hy nie vervoer gehad het nie.

Potberg het die wapen egter eers die aand teruggebring en Francis het gehoor dat sy wapen in die skietvoorval op Rademeyer gebruik is.

Die staat het aangevoer dat Potberg en Francis ’n gesamentlike doel gehad het om Rademeyer te vermoor.

Die staat het aangevoer dat Potberg en Francis ’n gesamentlike doel gehad het om Rademeyer te vermoor.

Eksteen het egter in sy uitspraak gesê daar is geen bewyse van ’n ooreenkoms of voorafgaande dade wat Francis by die moord betrek nie.

Hy het gesê die staat het nie daarin geslaag om ’n gesamentlike doel tussen Potberg en Francis te bewys nie en daarom kan hy nie aan moord skuldig bevind word nie.

Adv. Jason Thysse, staatsaanklaer, het die hof gevra om Francis aan strafbare manslag skuldig te bevind as hy nie aan moord skuldig bevind gaan word nie.

Volgens Eksteen is die definisie van strafbare manslag die onwettige en nalatige dood van ’n persoon.

Francis het vroeër getuig dat hy nie die aand van die skietvoorval geweet het dat Potberg deel van ’n bende is nie. Eksteen het dié getuienis verwerp en bevind dat Francis wel geweet het dat Potberg ’n lid van die Spotbouers-bende is.

Eksteen het gesê as ’n opgeleide polisiebeampte wat daagliks deur bendegeweld gekonfronteer is, was Francis se optrede om sy vuurwapen by Potberg te los nalatig en hy moes in die omstandighede kon voorsien dat die wapen vir bendegeweld gebruik kon word en tot iemand se dood kon lei.

* Francis se borgtog is verleng en die voorvonnisverrigtinge sal op 9 Oktober begin.

Meer oor:  Walter Francis  |  Port Elizabeth  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.