Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oud-Valkebaas se dogter boet oor dronkbestuur
Ao Anele Ntlemeza tydens haar verskyning in die hof op ’n aanklag van dronkbestuur. Foto: Verskaf

’n Dogter van ’n voormalige Valke-hoof is Woensdag in die landdroshof in Pretoria aan dronkbestuur skuldig bevind.

Anele Ntlemeza (33), ’n adjudant-offisier in die polisie, is ’n boete van R3 000 opgelê. Haar pa is genl.maj. Berning Ntlemeza, wat in 2017 uit die Valke geskop is nadat die hooggeregshof in Pretoria hom ongeskik vir sy pos verklaar het.

Anele is in die oggendure van 1 Oktober 2016 deur die polisie in Sunnyside afgetrek met ’n bloed/alkoholvlak van 0,18g/100ml.

Die wettige vlak is 0,05g/100ml.

Anele het Woensdag skuld beken. Sy sê in haar pleitverduideliking sy het die aand (voor sy in hegtenis geneem is) saam met ’n vriend gaan uiteet en vier gegeurde alkoholiese drankies (“spirit coolers”) gedrink.

Sy het die vriend daarna gaan aflaai en agteruit by sy hek uitgery, toe sy ’n polisievoertuig agter haar sien.

“Die polisie het my versoek om af te trek, die kar deursoek en gevra of ek gedrink het. Ek het ‘Ja’ geantwoord. Die polisie het my beveel om agter hulle aan te ry tot by die polisiestasie, waar ek gearresteer is en my bloed getrek is,” het Anele in haar verklaring aangevoer.

Hannes de Waal, haar regsverteenwoordiger, het ter strafversagting betoog dat Anele van die eerste oomblik af erken het dat sy gedrink het.

“Sy het nie roekeloos bestuur, of ’n ongeluk of iemand se dood veroorsaak nie.

De Waal het ook betoog dat die feit dat sy self haar motor tot by die polisiekantoor bestuur het daarop dui dat sy nie in so ’n toestand was dat sy ’n gevaar ingehou het nie.

Daarby, as ’n enkelouer, sal haar drie klein kinders sonder ’n versorger gelaat word, sou Anele tronkstraf opgelê word.

De Waal het ook versoek dat haar rybewys nie opgeskort word nie, aangesien sy al een is wat die kinders skool toe kan vervoer.

Haar werk is 30 km van haar huis af en ongeveer 40 km van die naaste mediese sorg en in albei gevalle het sy nodig om te kan bestuur.

“In haar werk as ’n ondersoekbeampte in die polisie moet sy ook baie ry om misdade te ondersoek,” het die prokureur gesê.

De Waal het bygevoeg dat Anele skuld beken en berou getoon het.

Maggie Sekati, die aanklaer, het egter gesê die beskuldigde is gearresteer nadat die polisie by haar stilgehou het om te hoor of daar ’n probleem is.

“Die beskuldigde het weggery en die polisie moes agterna ry om haar te arresteer. Sy is saam met hulle na die stasie toe en ’n polisielid was saam in haar kar. Dit is onduidelik wie bestuur het”.

Sekati het betoog dat Anele met haar optrede nie ander padgebruikers in ag geneem het nie.

Landdros Rochelle Francis het tydens vonnisoplegging Anele se persoonlike omstandighede in ag geneem, maar bygevoeg: “Jy is ook ’n polisiebeampte, iemand wat na die gemeenskap moet omsien en moet verseker dat mense beskerm word. Jy het ’n plig om binne daardie verantwoordelikhede op te tree”.

Francis het gesê die beskuldigde het nie net haar eie lewe in gevaar gestel nie, maar ook die van ander padgebruikers.

“Jy moet altyd in jou agterkop hou dat jy drie kinders het. As iets met jou gebeur, sal dit hulle raak”.

Sy het Anele ’n boete opgelê, maar nie haar rybewys opgeskort nie.

Sy is egter steeds na die hof se aanhoudingselle gelei waar sy moes wag totdat haar boete betaal is.

Het haar pa se amp 'n rol gespeel?

* Hoewel Anele se verbintenis met haar pa nie in die hof genoem is nie, glo die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, dat dit ’n rol gespeel het kort na haar arrestasie in 2016.

Anele is destyds op borgtog van R500 vrygelaat.

Haar pa was in daardie stadium nog die hoof van die Valke.

O’Sullivan, wat ook Woensdag by die hof was, het gesê hy het vroeër ’n e-pos aan brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke-woordvoerder, en die nuwe Valke-hoof gestuur waarin hy bewerings maak van inmenging deur die Valke nadat Anele destyds gearresteer is.

Volgens O’Sullivan het Mulaudzi ’n paar ure na Anele se arrestasie by die polisiestasie opgedaag en “opdrag” gegee dat sy op borgtog vrygelaat word.

Mulaudzi het Woensdag hierop gesê: “My werk is ’n kommunikasiebeampte. Ek loop nie rond en betaal mense se borgtog nie.

“Ek het mnr. O’Sullivan se aantygings destyds per e-pos beantwoord, wat ek ook aan die nasionale hoof van die Valke gestuur het.

“Hierin het ek onder meer gesê hy is welkom om ’n saakdossier teen my te open, as hy sodanige bewyse het.”

In Junie het News24 berig dat die nasionale vervolgingsgesag ’n saak van crimen injuria en intimidasie teen Anele ondersoek. Dit spruit glo uit telefoonoproepe aan kapt. Boitumelo Ramahlana waarin sy hom na bewering met die dood gedreig en hom van teistering beskuldig het. Ramahlana het vroeër ’n saak van bedrog en regsverydeling teen Anele se pa geopen nadat ’n dossier teen ’n polisielid van Limpopo weggeraak het.


Meer oor:  Valke  |  Dronkbestuur  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.