Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oudjaer skrik nie vir owerheid óf vir ’n hofbevel
Steve Wyndham
Steve Wyndham in die dae toe hy nog ’n renjaer was. Foto: Verskaf

As ’n R100 000-boete nie genoeg is om ’n voormalige ren­jaer te laat briek aanslaan met sy lasterlike aantygings teen Motorsport Suid-Afrika (MSA) nie, sal hy ses maande agter tralies moet deurbring.

Steve Wyndham is Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg ’n tweede keer skuldig bevind aan minagting van die hof omdat hy ’n vorige bevel oor dié laster verontagsaam het.

Regter Greg Wright het hom met R100 000 beboet en gesê die tronkstraf sal op 15 Januarie in werking tree as Wyndham aanhou om MSA en mense soos die organisasie se voorsitter, Anton Roux, en uitvoerende hoof, Adrian Scholtz, op sosiale media sleg te sê.

Wright het ook ’n strafkostebevel teen Wyndham uitgereik.

Wyndham (59), van Elandsbaai in die Wes-Kaap, het MSA in Desember begin beskuldig van bedrog en die wanbesteding van miljoene rande. Hy het MSA-direksie­lede daarvan beskuldig dat hulle hulself verryk en motorsport in die land “kaap”.

MSA het gesê die aantygings is vals, lasterlik en roekeloos. Hulle het hom genooi om persoonlik met hulle oor sy griewe te praat, maar sonder sukses. ’n Prokureursbrief aan Wyndham het ook op dowe ore geval. MSA het in Januarie ’n hofaansoek teen hom ingedien, want die organisasie wou keer die aantygings los “oorblyfsels in die harte en koppe van ons ondersteuners en borge”.

Die hof het Wyndham verbied om enige stellings op enige mediaplatforms oor MSA, sy huidige en voormalige direkteure of werknemers te publiseer.

Hy is ook beveel om al sy Facebook-inskrywings oor hulle te verwyder.

Wyndham kon sy saak daarna in ’n eedsverklaring aan die hof stel, maar hy het nie.

Hy het hom ook nie aan die bevel gesteur nie. Hy is in Julie en weer Dinsdag aan minagting van die hof skuldig bevind.

Volgens MSA het baie mense op sosiale media vir Wyndham opgekom en die regstappe beskou as té swaar optrede teenoor ’n besorgde motorsportgeesdriftige. Mense het gesê MSA is ongewillig om Wyndham se vrae te beantwoord en wou weet hoe die organisasie die geld bestee wat van belanghebbendes kom.

Volgens MSA word sy jaarstate, wat oop is vir die publiek, jaarliks deur ’n onafhanklike ouditeur nagegaan. MSA het nog nooit ’n gekwalifiseerde oudit gekry nie en behalwe die uitvoerende hoof kry geen direksielid vergoeding nie.

Ure voordat MSA Dinsdag hof toe is, het Wyndham ’n boodskap aan Roux gestuur en gevra of die hofsaak uitgestel kan word “vir ’n week of so”. Hy het nie ’n antwoord by Roux gekry nie. Wyndham het hom weer tot Facebook gewend en gesê hy gaan nou “druk soos nooit tevore nie” en mense moet vir hom bewyse stuur.

Hoewel die hof Wyndham Dinsdag 48 uur kans gegee het om die boete te betaal, het MSA se prokureurs gesê dit het teen Vrydag nog nie gebeur nie. Wyndham het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Meer oor:  Hof  |  Steve Wyndham  |  Boete  |  Minagting  |  Msa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.