Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oudpolisieman mag vir Timol se dood vervolg word

Die apartheidsera-polisieman Joao (Jan) Rodrigues, wat nou reeds in sy 80’s is, mag weens die moord op die aktivis Ahmed Timol vervolg word. Die appèlhof in Bloemfontein het Maandag beslis dat die saak mag voortgaan.

Joao Rodrigues Foto: Felix Dlangamandla

Rodrigues se verlof tot appèl, asook dié appèl self, is op 6 November verlede jaar in die appèlhof in Bloemfontein aangehoor.

Hy het hom tot die appèlhof gewend nadat hy in die hooggeregshof in Johannesburg misluk het met ’n aansoek dat vervolging teen hom oor die moord byna 47 jaar gelede gestaak moet word. Sy aansoek om verlof om teen dié bevinding te appelleer is vroeër in die hooggeregshof geweier.

In ’n meerderheidsuitspraak het die appèlhof met die hooggeregshof saamgestem dat politieke inmenging ’n saak van groot erns is, maar die afwesigheid van besonderhede oor hoe dit gebeur het, moenie ’n hindernis wees om die uitslag van die saak te bepaal nie.

Daar is eenvoudig geen getuienis dat politieke inmenging ’n invloed op die billikheid van die verhoor sal hê nie, lui ’n deel uit die uitspraak, wat Maandag elektronies gelewer is.

Hulle het verder bevind daar is geen getuienis wat bewys dat die verloop van 47 jaar voordat Rodrigues vervolg is die algehele billikheid van die verhoor sal beïnvloed nie en dat ouderdom en kranklikheid by die vonnis ter sprake sal kom. Dit is dus nie gronde waarop die appellant kan staatmaak as ’n vorm van benadeling nie.

Daarbenewens is die verhoorhof die beste hof om enige kwessie van potensiële benadeling te hanteer.

Die appèl het gevolglik misluk.

Luidens die hofstukke is in die eerste geregtelike ondersoek na Timol se dood op 27 Oktober 1971 bevind dat hy sy eie lewe geneem het. Hy het op dié dag van die tiende verdieping van die destydse hoofkantoor van die polisie op John Vorster-plein in Johannesburg geval. Hy was 29 jaar oud.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in 2016 besluit om die geregtelike doodsondersoek te heropen nadat Timol se familie die getuienis van hul eie private ondersoek aan die NVG voorgelê het.

In dié tweede geregtelike nadoodse ondersoek, wat in die hooggeregshof gehou is, is bevind dat lede van die veiligheidspolisie Timol in aanhouding gemartel en vermoor het.

Die regter het bevind dat Rodrigues nie deelgeneem het nie, maar wel oor die omstandighede gelieg het.

Die NVG het ondanks die bevinding steeds met die vervolging voortgegaan en Rodrigues het hom tot die hooggeregshof gewend om dié vervolging te staak. Dít het misluk.

Rodrigues, voormalige lid van die destydse veiligheidspolisie, het dus nie destyds by die Waarheids-en-versoeningskommissie om amnestie aansoek gedoen nie.

Hy het in hofstukke aangevoer die vervolging sal ná al die jare teen sy grondwetlike reg op ’n billike verhoor indruis. Verder is dit ook duidelik dat daar politieke inmenging en druk was van die destydse regering om met vervolging voort te gaan.

Meer oor:  Ahmed Timol  |  Aktivis  |  Dood  |  Vervolging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.