Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oudstudent van US kry R15 miljoen ná skikking

Altesaam R15 miljoen.

Dit is die skadevergoeding wat die Universiteit Stellenbosch (US) aan ’n prokureur van die Paarl moet betaal ná ’n skikking op 7 Maart.

Izak Potgieter (32) was ’n 21-jarige regstudent in sy derde jaar aan die US toe ’n brand op 9 Augustus 2007 in die vroeë oggendure in die Eendrag-manskoshuis uitgebreek het.

Izak Potgieter Foto: Facebook

Potgieter en sy kamermaat, Servaas Fick, het by hul kamervenster uitgespring om van die vlamme weg te kom.

Hulle het vir ’n afdak onder hul kamervenster gemik. Fick, wat kleiner as Potgieter is, het daarop geland – Potgieter nie.

Hy het twee weke later in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal wakker geword – permanent verlam en met ernstige brandwonde aan sy hande, arms, rug, bene en voete.

Die brand het feitlik die hele derde verdieping van die koshuis verwoes.

Die twee het in kamer 117, op die derde verdieping van dié koshuis, gewoon. Hulle het geslaap toe Potgieter dié oggend wakker geword het.

Hy het in sy getuienis in die hooggeregshof in Kaapstad gesê dat hy “ ’n hengse lawaai”, die gebrul van die vuur en die voeteval van mense wat hardloop, gehoor het.

Hy kon nie onthou of hy die rookalarm gehoor het nie, maar het gesien dat die plafon brand.

Die Eendrag-manskoshuis aan die brand. Die brand het op die derde verdieping uitgebreek.Foto: Garth Stead

Hy het die onmiddellike gevaar besef en het die slapende Fick wakker gemaak. Hulle het die deur oopgekry, maar dit was onmoontlik om daar uit te kom.

Die venster was die enigste uitweg.

Albei het eers aan die vensterbank vasgeklou. Fick het toe, met sy gesig na die straat, gespring. Potgieter, wat met sy rug na die straat aan die vensterbank vasgehou het, het toe gespring.

Die hooggeregshof in Kaapstad het reeds in 2016 bevind die US is vir skadevergoeding aan Potgieter aanspreeklik en moet ook sy regskoste betaal.

Potgieter het aangevoer die US was verplig om te verseker dat die regte maatreëls toegepas word om studente se veiligheid te verseker.

Die Eendrag-manskoshuis brand. Foto: Verskaf

Hy het aangevoer daar was nie brandmure in Eendrag se dak nie. Dit sou kon keer dat ’n brand deur die dak versprei. Die afwesigheid van brandmure was ’n bedreiging vir studente wat op die derde verdieping van die koshuis gewoon het, aangesien die brand baie vinnig sou kon versprei.

In 1983 is die Huis Ten Bosch-vrouekoshuis ná ’n brand daar amper ook in puin gelê. Die hof het bevind die US moes ná die brand by Huis Ten Bosch die nodige stappe gedoen het om nog so ’n brand te voorkom. Hulle moes voorsien het dat hul nalatigheid tot die besering van studente sou lei.

Potgieter het ook betoog ’n rookalarm in Eendrag se dak was onvoldoende en dat behoorlike maatreëls sou voorkom het dat hy moes uitspring.

Regter Judith Cloete het in haar uitspraak in 2016 na ander brande by die universiteit se eiendomme verwys en gesê ’n “ywerige vader” in die posisie van die universiteit sou ook verantwoordelike stappe teen sulke gebeure doen, veral ná die brand in 1983 by Huis Ten Bosch.

Die vooraansig van die Eendrag manskoshuis op die kampus van die Universiteit Stellenbosch kort nadat ’n brand op 9 Augustus 2007 op die derde verdieping uitgebreek het. Foto: Leanne Stander
Die gebou ná die brand op 9 Augustus 2007.Foto: Leanne Stander

In 1981, 2005, 2006 en 2007 was daar brande in die polimeerwetenskappegebou, Huis Sonop, Neelsie (studentesentrum) en Huis Visser. Die Wilcocks-gebou het ook in 2010 gebrand en die Helderberg-manskoshuis in Oktober 2015.

Cloete het gesê die US was finansieel in staat om redelike stappe te doen om die brandrisiko te verminder.

“Studente is, per slot van sake, studente en vir die meeste van hulle is verblyf in ’n koshuis net een stap weg van ouerlike sorg en toesig.”

Martin Viljoen, US-woordvoerder, sê die universiteit se versekeraars het die saak “per ooreenkoms met mnr. Potgieter” geskik.

“Die US het reeds in 2010 begin met ’n kampuswye projek om die veiligheid van geboue te verbeter. Veiligheid en risikobestuur op die kampus, insluitend koshuise, was en is binne finansiële en ander beperkinge steeds ? prioriteit vir die universiteit,” lui ’n 2017-verklaring van die US.

Potgieter wou nie kommentaar lewer nie.

Brand
Grafika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.