Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oudwerkers van sangeres 'kla op verkeerde plek'

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het nie die jurisdiksie om oor werkloosheidsversekeringsdispute te beslis nie.

Daarom moes twee voormalige werknemers van die sangeres Juanita du Plessis se platemaatskappy hul saak voor die KVBA terugtrek.

Willem Kruger en sy seun, Marius, het hulle vroeër op aanbeveling van die departement van arbeid na die KVBA gewend, ná ’n dispuut met Juanita Records BK oor werkloosheidsversekering.

Juanita du Plessis

“Ons is verkeerdelik na die KVBA verwys,” sê Willem.

Die kommissaris van die KVBA het ook ’n nota aan die departement van arbeid se verwysingsdokument geskryf: “Please do not pass the buck. Issues mentioned herein falls under your jurisdiction not the CCMA. Regards”.

Die dispuut volg nadat die Krugers aangevoer het dat hulle geregtig is op nege jaar se werkloosheidsversekering, terwyl die BK beweer dat hulle net vir ’n tydperk van 1 Julie 2016 tot 30 Junie 2017 daarop geregtig is.

Ardu Theron, die BK se prokureur by ’n arbeidspesialismaatskappy, sê die Krugers het vir nege jaar vir die BK gewerk, waarvan hulle vir agt jaar as subkontrakteurs geag is.

“Willie het die bussie (met toerusting) bestuur en gehelp met CD-verkope by Juanita se optredes. Marius het onder meer die klank gedoen, waarmee hy baie goed was.

“Hulle het net vir die BK gewerk as Juanita opgetree het, wat so twee of drie Vrydae en/of Saterdae per maand was.

“Die Krugers het dus tussen tien tot 30 dae per jaar gewerk. Hulle het nie altyd lank vooruit geweet presies wanneer en waar daar optredes sou wees nie, maar moes altyd beskikbaar wees,” voer Theron aan.

Daarom het Juanita se man, Doepie, wat ’n lid van die BK is, die Krugers steeds elke maand ’n vaste bedrag gegee, sê Theron.

Dit was elke maand presies dieselfde betaling. Daar was geen aftrekkings, geen dienskontrak of verlof of siekteverlof nie.
Ardu Theron

“Dit was elke maand presies dieselfde betaling. Daar was geen aftrekkings, geen dienskontrak of verlof of siekteverlof nie.”

In 2016 het die BK se boekhouer, aldus Theron, Doepie gevra oor dié betalings.

“Doepie het verduidelik dat die Krugers subkontrakteurs is. Die boekhouer het gesê die BK moet die werkers se kontrakte op skrif kry, om probleme met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te voorkom.

“Doepie het dus op aanbeveling van die boekhouer die Krugers as werknemers geregistreer. Hulle was bekommerd dat daar belasting van hulle afgetrek gaan word, maar Doepie het gesê, aangesien hulle subkontrakteurs is, sal hy die belasting betaal.

“Dit is hoekom Juanita Records BK hulle net van 1 Julie 2016 tot 30 Junie 2017 by die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) geregistreer het,” verduidelik Theron.

In 2017 het Juanita Records BK besluit om van die werk wat die Krugers en ander doen, op tender uit te kontrakteer.

“Daar was geen klagtes oor die Krugers se werk nie. Die Krugers het egter geglo hulle is permanente werknemers, terwyl die BK hulle as subkontrakteurs beskou.

“Ek het die skeidingspakkette, wat almal onderteken het, opgestel. Dit beteken nié dat iemand ’n vaste werknemer is nie.

“Dit moet nie verwar word met die voorskrifte van art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge oor afleggings nie.

“Ons skuld die Krugers dus nié WVF nie,” sê Theron.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.