Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ouma en oupa wat glo stilbly oor molestering, staan ook tereg

’n Ouma en oupa van Rustenburg in Noordwes wat glo sedert 2013 geweet het hul skoonseun verkrag en molesteer hul twee kleinkinders, verskyn einde Januarie weer in die hof weens hul versuim om dit aan te meld.

Die twee meisies is onderskeidelik agt en tien jaar oud, het kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg, in ’n mediaverklaring gesê.

Volgens haar het die grootouers ingevolge die Wet op Seksuele Oortredings ’n regsplig gehad om die beweerde verkragting en seksuele misbruik van die kinders aan te meld toe hulle glo in 2013 daarvan bewus geword het. Indien mense bewus is van seksuele misdrywe teen minderjarige kinders en dit nie aanmeld nie, is dit ingevolge dié wetgewing ’n strafregtelike oortreding.

Die meisies se ma word in hierdie stadium nie vervolg nie, maar die polisie sal eers later redes hiervoor verskaf.

Augoustides sê die kinders se ouers en grootouers het sedert 2013 in Randfontein aan die verre-Wes-Rand saamgewoon.

Hulle het daarna Rustenburg toe getrek en ook daar ’n ruk saamgewoon.

Volgens Augoustides het die kinders se biologiese ma die vermeende kinderverkragter in Junie 2019 verlaat en by ’n ander man ingetrek.

“Die kinders het die beweerde voorvalle van verkragting en seksuele mishandeling onder die ander man se aandag gebring. Hy het daarop aangedring dat dit by die polisie aangemeld moet word. Dit het ook aan die lig gekom dat die vermeende verkragter ook ’n ander 12-jarige meisie wat by die familie gekuier het, glo seksueel aangerand het.”

Volgens Augoustides het die ouma dit ook eers toe by die polisie in Rustenburg aangemeld.

Die 43-jarige verdagte is in hegtenis geneem. Een van die slagoffers is sy biologiese dogter, maar die ander twee is nie aan hom verwant nie.

Die man het sedert sy inhegtenisname verskeie kere in die landdroshof in Rustenburg verskyn. Hy is borgtog geweier en moet op 21 Januarie weer verskyn.

Dit het tydens die ondersoek van die saak ook geblyk die kinders se ouma en oupa was sedert 2013 bewus van die beweerde voortgesette verkragting en molestering van die meisies.

Hulle is op 31 Desember verlede jaar in hegtenis geneem weens hul versuim om dit aan te meld. Die grootouers is met hul eerste verskyning op 2 Januarie op borgtog van R1 000 vrygelaat en moet weer op 31 Januarie in die landdroshof in Rustenburg verskyn.

Genl.maj. Arthur Adams, gebiedsbestuurder van die Rustenburg-polisie, het die beweerde misdrywe deur mense wat veronderstel was om die kinders te beskerm, veroordeel. Hy het die publiek daaraan herinner dat hulle wetlik verplig is om vermoedelike seksuele uitbuiting van minderjarige kinders aan te meld wanneer hulle daarvan bewus word.

Meer oor:  Elsabé Augoustides  |  Rustenburg  |  Noordwes  |  Kindermolestering  |  Misdaad  |  Seksuele Aanranding  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.