Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Oupa vir moord in hof ná hy inbreker doodskiet

’n Oupa van Grabouw in die Wes-Kaap is vir moord in hegtenis geneem nadat hy ’n inbreker doodgeskiet het wat volgens hom sy vrou en kleinkind se lewe bedreig het.

Giel Fourie (65), wat intussen op borgtog vrygelaat is, het Maandag vir die eerste keer gepraat oor die voorval toe hy die inbreker in die kombuis in sy huis doodgeskiet het.

Giel Fourie (65) het ’n inbreker in sy kombuis doodgeskiet nadat hy met ’n mes gedreig en raakgesny is. Foto: Verskaf

Hy en sy vrou, Susan (62), was verlede Donderdag in hul huis in Grabouw besig om pasteie te maak toe ’n inbreker helder oordag oor hul motorhek gespring het.

“Ons het hom nie eers gesien oorspring nie. My seun het intussen ons 11-jarige kleindogter by die huis kom aflaai, min wetende die inbreker is reeds in die huis,” sê Giel.

“Toe my vrou ná ’n ruk by die spaarkamer inloop, sien sy die bank staan effens skeef. Die man lê toe al die tyd daar en wegkruip.”

Die inbreker het toe reeds ’n sak met ’n beursie en elektriese haarskeerder daarin reggesit om weg te dra.

Susan het dadelik gegil, “dis dieselfde man!”

Sy het hom herken omdat hy haar drie weke gelede ook in die huis aangeval het. Sy was toe alleen en hy het haar op die vloer neergegooi, met ’n mes gedreig en haar gedwing om vir hom geld te gee.

“Hy het my met ’n kabelbinder wat hy by hom gehad het vasgebind aan die bed en het drie keer teruggekom na die kamer om te kyk of ek stil lê,” sê Susan.

Die inbreker is toe weg met R1 500 kontant.

Toe Susan Donderdag die inbreker agter die bank gewaar, het sy hom met ’n besem bygekom en vir Giel geroep.

“Hy het my met ’n mes probeer steek, maar ek het met my linkerhand sy arm vasgegryp en hy het net my pinkie raakgesny. Hy het daarna opgespring en uit die kamer gehardloop,” sê Giel.

“Ek het toe maar my rewolwer uit die kluis gaan haal. Ek het by myself gedink, ‘vandag word niemand doodgesteek nie’.”

Die rower was vasgekeer toe hy nie by die kombuisdeur kom uitkom nie. Giel het hom daar gekry waar Susan hom met ’n ketel koue water gegooi het.

“Die man het my met die mes gedreig en het al nader aan my beweeg. Ek het hom gewaarsku en gesê ek gaan skiet, maar hy het nie teruggestaan nie.

Die man het my met die mes gedreig en het al nader aan my beweeg. Ek het hom gewaarsku en gesê ek gaan skiet, maar hy het nie teruggestaan nie.
Giel Fourie

“Ek is nie ’n gewelddadige mens nie. Ek sal skaars ’n spinnekop doodmaak. As ek ’n slang in my huis kry vang ek hom en gaan los hom in die veld.

“Ek probeer altyd vrede maak, maar in daardie situasie was daar nie ander uitkomkans nie. Ek moes my familie beskerm.”

Giel het ’n waarskuwingskoot geskiet, maar dit het steeds die inbreker nie afgeskrik nie.

“Ek het hom toe in die bors geskiet. Ek het bedoel om net een keer te skiet, maar ek het toe twee keer die sneller getrek.”

Giel en Susan se kleindogter was ook in die kombuis toe die skote geskiet is.

Susan het daarna die polisie gebel.

“Ek was baie beïndruk met hoe vinnig die polisie by die huis was. Soos blits was die plek afgesper en die forensiese dienste het met hul werk begin.”

Die egpaar het berading ontvang en Giel is vir buskruit getoets.

Hy is in hegtenis geneem en het die volgende dag op aanklag van moord in die landdroshof op Grabouw verskyn. Hy is op borgtog van R500 vrygelaat.

Giel sê hulle word oorval met ondersteuning van die gemeenskap.

“So baie mense het ons al gebel en baie bied aan om te help geld insamel vir die regskoste. Die gemeenskap ondersteun ons geweldig baie.”

Hy moet weer op 6 Mei in die hof verskyn.

Meer oor:  Grabouw  |  Doodskiet  |  Inbreker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.