Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Outa en Kaapse metroraad steeds haaks oor besoedeling

Ten spyte van pogings om die rioolbesoedeling van die Milnerton-strandmeer en die Dieprivier-opvangsgebied in Kaapstad te verminder, neem die E. coli-vlakke hier drasties toe, sê die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).

Die Milnerton-strandmeer. Foto: Verskaf

Outa sê in ’n verklaring hy werk die afgelope paar maande saam met die Kaapse metroraad en die Groen Skerpioene om maniere te vind om die besoedelingsprobleem hier op te los, maar dit lyk nie of die ingrypings die gewenste uitwerking het nie.

Outa het betrokke geraak nadat inwoners van Milnerton in opstand oor die besoedeling gekom het.

“Ons gaan steeds voort met onafhanklike watertoetsing en die huidige resultate is meer ontstellend as ooit tevore,” sê Andrea Korff, regsprojekbestuurder van Outa.

“In die algemeen is die resultate van die behandeling redelik aanvaarbaar, maar die E. coli-vlakke het aansienlik gestyg.”

Luidens die verklaring van Outa het die Potsdam-afvalwaterverwerkingsaanleg die afgelope sewe weke al die teikens gehaal wat hy kragtens sy waterlisensie veronderstel is om te haal, behalwe oor E. coli.

Luidens Outa se verklaring meen die metroraad dat die Potsdam-aanleg voldoen aan die vereistes vir algemene magtiging kragtens die waterlisensie dat die E. coli-vlakke laer as 1 000 deeltjies/100 ml moet wees.

“Outa se mees onlangse onafhanklike toetse, wat op 20 Mei gedoen is, toon die hoogste vlakke van E. coli (102 000 deeltjies per 100 ml) wat ons nog gemeet het,” sê Korff.

Resultate van die watermonsters wat die Kaapse metroraad geneem het. Foto: Verskaf

“Nog meer kommerwekkend is dat ons watertoetse die afgelope paar maande wys dat die E. coli-vlakke waar ons ons monsters neem, dramaties verswak het, ten spyte daarvan dat die metroraad beweer dat die watergehalte verbeter.”

Xanthea Limberg, die metroraad se burgemeesterskomiteelid vir water en afval, sê in reaksie dat die metro se toetsuitslae van die water wat uit die Potsdam-aanleg vloei, is in die openbaar beskikbaar en word aan die subrade gerapporteer.

“Ten opsigte van die verskille in die metro se uitslae en Outa s’n, het ons al voorheen belangrike vrae geopper oor waar Outa sy monsters neem. Die metro neem sy monsters reg by die uitvloei van die aanleg, wat nie vir die publiek toeganklik is nie.

“As Outa sy monsters neem op ’n terrein wat wel vir die publiek toeganklik is, sou dit beteken dat sy resultate nie ’n ware voorstelling is van die gehalte van die water wat uit Potsdam vloei nie, aangesien dit deur ander besoedelingsbronne van die Dieprivier beïnvloed word.”

Dié besoedelingsbronne sluit in die onwettige storting in die stormwaterstelsel, die misbruik van die rioolstelsel wat verstoppings en oorstromings veroorsaak (veral in Dunoon), asook landboubedrywighede stroomop.

Die metro neem sy monsters reg by die uitvloei van die aanleg, wat nie vir die publiek toeganklik is nie.

Limberg sê ’n opgradering van R1,75 miljard aan die Potsdam-aanleg vorder goed en noodherstelwerk het die gehalte van die water wat daar uitvloei, aansienlik verbeter.

“Die toetsresultate bevestig wat ons al herhaaldelik gesê het, naamlik dat die gehalte van die water deur talle faktore beïnvloed word en dat stappe gedoen word om hieraan aandag te gee.”

Sy het inwoners verseker dat die herstel- en opgraderingswerk by Potsdam wel die watergehalte aansienlik verbeter het.

Meer oor:  Kaapse Metroraad  |  Outa  |  Kaapstad  |  Milnerton  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.