Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Owerhede bedank ná sportafrigter skuldig bevind is
Collan Rex by die hooggeregshof waar hy Vrydag op 144 aanklagte van seksuele aanranding en 12 aanklagte van aanranding skuldig bevind is. Foto: Simon Sonnekus

’n Voormalige sportafrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg is Vrydag in die hooggeregshof in die stad skuldig bevind op 144 aanklagte van seksuele aanranding.

Collan Rex (22) is ook op 12 aanklagte van aanranding skuldig bevind. Dié 12 aanklagte was aanvanklik aanklagte van poging tot moord.

Leerlinge wat tussen 13 en 16 jaar oud was toe die misdade gepleeg is, het vroeër vandeesmaand onder meer getuig hoe Rex herhaaldelik tydens ’n stoeiery hulle in ’n wurggreep sou vasklem totdat hulle amper flou geword het.

Regter Peet Johnson het bevind daar is nie bewys dat Rex die seuns wou vermoor nie. Johnson het die aanklagte toe na aanranding verander. Rex is op 171 ander aanklagte, van onder meer verkragting en die blootstelling van kinders aan pornografie, vrygespreek.

Collan Rex by die hof. Hy het tydens die verhoor dikwels sy sonbril opgesit of sy gesig bedek sodra hy ’n kamera gewaar het.Foto: Simon Sonnekus

Die sportafrigter is in 2017 in hegtenis geneem toe hy met ’n veiligheidskamera betrap is waar hy aan ’n 15-jarige leerling se geslagsdeel gevat het. Hy is destyds op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het die uitspraak verwelkom.

“Dit is met gemengde gevoelens dat ons die skuldigbevinding aanvaar weens die ontsettende pyn waardeur ons skoolkinders is. Ons wil graag die hele skool, die beheerliggaam, leerlinge, onderwysers en ouers bedank vir die ondersteuning wat hulle aan die kinders gebied het. Ons wil ook die polisie en die nasionale vervolgingsgesag bedank vir hul moeite om ’n gepaste skuldigbevinding te kry.”

Lesufi het ook sielkundiges en die Teddy Bear Clinic bedank vir hul berading.

“Dit is belangrik om belangegroepe soos die Teddy Bear Clinic en die kliniese sielkundiges wat aan die saak gewerk het, se werk te erken. Ons is hulle dank verskuldig vir die diens wat hulle gelewer het.

“Hierdie saak moet dien as ’n afskrikmiddel vir diegene wat ons leerlinge seksueel mishandel. Hulle sal die volle mag van die gereg teëkom.”

Lede van die ANC-jeugliga het Vrydag, terwyl die hofsaak aan die gang was, buite die hofgebou betoog met plakkate waarop onder meer gestaan het: “Hou jou hande van ons seuns af!”

Loyiso Mtsolo, ’n lid van die jeugliga, het gesê hulle was by die hof om Rex se slagoffers te ondersteun.

“Ons is hier om die seuns te ondersteun, maar ook om ons misnoeë uit te spreek oor wat gebeur het by die Parktown Boys’ High School.

“Ons hoop die seuns leer hieruit sodat hulle nie mense mishandel soos wat hulle mishandel is nie. Dit lyk asof dit al geruime tyd aan die gebeur was en dat daar ’n kultuur van mishandeling by die skool was. Ons wil seker maak dat hierdie uitspraak nie net die seuns gerusstel nie, maar ook hul ouers, ander leerlinge en werknemers van die skool,” het Mtsolo gesê.

Vonnisverrigtinge begin Maandag wanneer die hooggeregshof sy sitting in Palm Ridge voortsit.

Lede van die ANC-jeugliga het Vrydag buite die hof in Palm Ridge betoog. Foto: Simon Sonnekus

Meer oor:  Collan Rex
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.