Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pa in hof weens babamoord

’n Man van die Oos-Kaap het Maandag vlugtig in die landdroshof op Swellendam in die Wes-Kaap verskyn op aanklag daarvan dat hy Donderdag sy 16 maande oue babadogtertjie doodgesteek het.

Alime Mbasha, die 16 maande oue babameisie wat na bewering deur haar pa vermoor is.

Siabonga Mbasha (33) word daarvan beskuldig dat hy tydens ’n hewige argument met sy saamleefvrou op die plaas Bloemhof by Buffeljagsrivier, sy eie kind, Alime Mbasha, in ’n woede-uitbarsting gegryp, gegooi en met ’n mes gesteek het.

Die baba is op die toneel dood terwyl haar 24-jarige ma, Nadia Saayman, glo van Mbasha probeer vlug het.

Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die verdagte bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 28 Januarie.

“Die verdagte sal in hierdie tyd regsverteenwoordiging kry. Die ondersoek na die voorval duur voort,” sê Pojie.

Die Kaapse aktivis Lucinda Evans, koördineerder van die organisasie teen gesins- en geslagsgeweld, One Billion Rising South Africa, sê die tragiese voorval vertel die verhaal van hoe baie vroue op die platteland steeds slagoffers van geweld is.

“Hierdie verdagte kan homself nie ’n pa noem nie. Hy moet nooit weer uit die tronk kom nie en moet glad nie oorweeg word vir borgtog nie,” sê sy.

Evans sê ’n span vrywilligers van haar organisasie is die naweek na Swellendam om die familie te ondersteun.

Sy sê volgens inligting was dié voorval die derde moord wat met gesinsgeweld verband hou die afgelope paar maande by Buffeljagsrivier.

Alime Mbasha is Donderdag op die plaas Bloemhof by Buffeljagsrivier vermoor.

Leatetia Kortje, die vrywilliger wat huisbesoek by die familie op die plaas Bloemhof afgelê het, sê die gesin is erg getraumatiseer en in rou gedompel.

“Wat ons gevind het, is ’n arm familie wat verpletter is deur die dood van so ’n pragtige kind.”

Kortje sê Saayman is so erg getraumatiseer dat dit lyk asof sy haar lus vir die lewe verloor het.

“Sy huil aaneen en verwyt haarself dat sy weggehardloop en haar kind agtergelaat het. Sy het nooit gedink dat die verdagte hul kind sou seermaak nie,” sê Kortje.

Volgens Kortje wou die ma glo die beskuldige los en was sy gereed om op haar eie na haar dogtertjie te kyk.

“Die twee het gestry oor plaaswerk. Die pa is uitgeroep om op ’n plaas te gaan werk en die ma wou nie saamgaan nie. Hulle het in ’n hewige stryery betrokke geraak en uit woede het die man haar glo probeer aanrand,” sê Kortje.

“Hy het glo die kind uit haar arms geruk en gedreig om haar seer te maak. Sy het gevlug toe hy haar glo met ’n mes dreig en het sy fokus op die kind gedraai toe sy weghardloop.”

Volgens Kortje het die ouma gesien hoe die pa glo soos ’n besetene tekere gaan.

“Dit het glo gelyk asof hy Alime se keel wou afsaag. Hy het die kind glo rondgepluk, gegooi en haar lewe geneem. Nadat hy haar doodgemaak het, het hy glo gesê: ‘Bel die polisie, ek wag vir hulle’, voordat hy glo die mes langs die kind neergesit het, het die ouma vertel.”

Die familie is baie arm en probeer nou geld bymekaarkry om Alime te begrawe. ’n Lykskouing is reeds Maandag gedoen en Alime sal na verwagting Donderdag begrawe word.

Meer oor:  Swellendam  |  Oos-Kaap  |  Landdroshof  |  Verskyn  |  Babamoord  |  Baba  |  Moord  |  Hof  |  Pa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.