Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pa kry lewenslank wat seun laat vermoor oor onderhoud

’n Oudonderwyser van Thaba Nchu, Vrystaat, wat sy eie 16-jarige seun vir R25 000 deur ’n huurmoordenaar laat vermoor het omdat hy nie verder onderhoud wou betaal nie, is in die hooggeregshof in Bloemfontein lewenslank tronk toe gestuur.

Teboho Chris Molatole (47) se vrou, Kelebogile Monkie Molatole (49), en die huurmoordenaar, Richard Sefuthi (33), is ook deur regter Martha Mbhele tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Van links is Kelebogile Monkie Molatole, Kgwediyamorena Richard Sefuthi en Teboho Chris Molatole. Foto: Alzane Narrain

Sefuthi, ’n veewagter en burger van Lesotho, is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte daarvan dat hy onwettig in besit van ’n vuurwapen was.

Kelebogile het Sefuthi deur ’n vriendin gekry om Kearabetswe Leteane die aand van 5 April 2017 in Gladstone Trust, Thaba Nchu, te vermoor.

Sefuthi het eers ’n deposito van R15 000 en ná die moord nog R10 000 van die Molatoles gekry.

Die seun is vermoor nadat sy ma, Jane Leteane, R200 000 van sy pa se pensioen as toekomstige onderhoud geëis het nadat Molatole uit die onderwys bedank het om sy pensioengeld te kry.

Mbhele het in haar vonnisoplegging in ’n volgepakte hofsaal gesê Molatole het geen noemenswaardige bydrae tot sy seun se opvoeding gemaak nie en Leteane moes hom alleen grootmaak. Hy het nie eens ’n bydrae tot die begrafnis gemaak nie.

Sy het gesê die wrede en onmenslike moord is uit gierigheid gepleeg.

Die egpaar het die moord fyn beplan en ’n huurmoordenaar gekry om hul vuilwerk te doen sodat daar nie vingers na hul kant gewys kon word nie.

Die pa het dit gedoen om sy verantwoordelikheid teenoor sy seun te ontduik.

“Die seun het die liefde en ondersteuning van ’n pa nodig gehad. In stede daarvan is hy verwerp, nooit aanvaar nie en doodgeskiet.”

Mbhele het gesê sy het nog nooit van sulke wreedheid gehoor dat ’n pa en stiefma saamsweer om ’n kind te laat doodmaak nie.

“Ek hoop julle sal eendag kan sit en vrede maak met wat julle gedoen het. Julle het baie pyn aan mense naby julle veroorsaak.”

Adv. Amanda Bester het aangekla. Max Modise van Regshulp SA en T.E. Lehupela van Lehupela-prokureurs het vir die drie moordenaars opgetree.

* Leteane was in matriek toe Molatole as onderwyser in ’n onbehoorlike verhouding met haar betrokke was. Vandat sy ses maande swanger was, het hy haar verwerp en wou hy ook niks met sy seun te doen gehad het nie.

Meer oor:  Vrystaat  |  Thaba Nchu  |  Huurmoord  |  Vonnisoplegging  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.