Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pa wat baba glo ernstig aanrand, kry borgtog

’n Pa wat sy seuntjie verlede jaar glo so ernstig aangerand het dat hy weke in die waaksaal van ’n Pretoriase hospitaal behandel moes word, is op borgtog vrygelaat.

Luidens die klagstaat is die 28-jarige man se borgtog van R1 000 onderhewig aan die voorwaardes dat hy geen kontak met die seuntjie of die ma mag hê, of na hul woonplekke of die ma se werkplek mag gaan nie.

Die baba is intussen einde verlede jaar in ’n plek van veiligheid geplaas hangende die kinderhof se verrigtinge.

Hy was vier maande oud toe hy op 26 Oktober verlede jaar in sy ouers se woonstel beseer is.

Bure het die polisie ontbied, waarop die pa weggehardloop het. Hy is drie dae later deur lede van die Unchain Our Children-organisasie en die polisie vasgetrek.

Die kind is met gebreekte ribbes, ’n gebreekte femur, ’n geskeurde oorskulp, vermoedelike swelling op die brein en verskeie gesigbeserings in die pediatriese waakeenheid opgeneem.

Hy moes in ’n stadium aan ’n ventilator gekoppel word.

Die ma het beweer dat die pa die baba aangerand het terwyl sy in ’n kamer toegesluit was.

Haar lewensmaat is hierop aangekla van poging tot moord op die baba, kindermishandeling, alternatiewelik opsetlike verwaarlosing deur die baba te gooi, aanranding op die ma en ontvoering nadat hy glo die ma teen haar wil in die woonstel toegesluit het.

Die hof het gedurende die pa se borgtogaansoek gehoor dat die baba destyds glo begin huil het terwyl sy pa sy ma aangerand het. Toe skree die pa op die kind om op te hou en druk glo sy ribbes sodat hy moet stilbly.

Luidens ’n verklaring van die ondersoekbeampte is die pa as ’n vlugrisiko beskou omdat hy destyds weggehardloop het.

“Die bewering is dat die beskuldigde onder die invloed van dwelms was toe hy die slagoffers aangerand het. Hy het die een slagoffer (die ma) verskeie kere aangerand, toe op die baba geskree om op te hou huil en sy ribbes (saam)gedruk,” het die ondersoekbeampte aangevoer.

Die beskuldigde, ’n motorwerktuigkundige, het in sy verklaring aangevoer dat hy met die R1 200 per week wat hy verdien sy 18-jarige lewensmaat en hul baba onderhou het. Hulle het gedurende die voorval saam in ’n woonstel in Arcadia, Pretoria, gebly.

Hy sal gedurende sy borgtog by sy pa in ’n ander woonbuurt bly.

“Ek is nie ’n vlugrisiko nie en sal my verhoor bywoon,” het die beskuldigde onderneem.

• Die ma, wat ongeveer twee jaar die beskuldigde se lewensmaat was, is intussen self in hegtenis geneem op ’n aanklag van sameswering om moord te pleeg.

Dit het gekom nadat die hofverrigtinge begin is om te bepaal wie toesig oor die baba moes kry.

Kort ná een van die sittings het die ma glo op 9 November verlede jaar gesoek na iemand om ’n bendelid te werf in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria, waar die pa in aanhouding was, met die doel om hom “uit te haal”.

Sy is op 23 November hiervoor in hegtenis geneem en later op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Meer oor:  Pretoria  |  Borgtog  |  Baba  |  Hof  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.