Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Packham: Dogter sê hy is liefdevolle en toegewyde pa

Die oudste dogter van die moordenaar Rob Packham (58) het haar pa as die beste pa in die wêreld beskryf, ’n liefdevolle toegewyde pa wat vir sy gesin gesorg het.

Kerry Meyer (28), wat nou in Engeland woon en werk, wou egter nie gehad het hierdie getuienis moes uitgesaai word en met die res van die land gedeel word nie.

Kerry Meyer en Nicola Packham sit Maandag in die hooggeregshof toe hul pa, Rob Packham, skuldig bevind is. Foto: Jaco Marais

Regter Elize Steyn, wat Packham Maandag skuldig bevind het aan die moord op sy vrou, Gill, op 22 Februarie verlede jaar, wou ook weet hoekom sy nie haar getuienis met die land wou deel in ’n poging om deursigtig te wees nie.

Volgens adv. Craig Webster SC, Packham se regsverteenwoordiger, is dit omdat sy ’n onderwyser is en die uitsaai van haar getuienis baie intimiderend is. Nogtans wou Steyn weet waarom Meyer nie voor die kameras wou getuig nie, maar sy het egter haar versoek toegestaan.

Meyer het getuig sy en haar pa het ’n baie hegte verhouding gehad, hulle het saam vir wedlope geoefen en sy kon hom altyd hulp en raad vra. Hy het die susters geleer om ’n bal te vang omdat “dit belangrik was, selfs al was ons meisies”, het sy getuig.

Packham, volgens Meyer, was die broodwinner in die huis en het hard gewerk om vir sy vrou en twee dogters te sorg en die beste moontlike lewe te kon gee.

Volgens haar was hy nooit gewelddadig teenoor hulle nie.

“Hy is ’n vriendelike mens wat altyd vir ander omgee. Hy is altyd besorg oor my en my man, en is baie liefdevol en altyd bereid om ander te help,” het Meyer getuig.

“Hy is ’n wonderlike pa en man, en is baie liefdevol. Hy is ’n mentor vir my man en het hom met loopbaanraad gehelp. Hy was altyd daar vir ons en het gewys dat hy vir ons omgee,” het sy getuig.

Meyer het haar ouers se huwelik as ’n “normale, gelukkige huwelik” beskryf en gesê hulle het soms gefrustreerd met mekaar geraak, maar het steeds ’n warm verhouding gehad.

Die onthulling van die buite-egtelike verhouding met Persoon X was ’n groot skok vir hulle en veral vir haar ma.

“Ons het ’n oop verhouding gehad en my ma het met my oor die verhouding gepraat. Sy was baie eerlik met my,” het Meyer gesê.

“Die onthulling het ’n groot impak gehad en het my ma baie seer en kwaad gemaak, maar hulle het tyd geneem om deur dit te werk.”

Dit was nie die eerste keer dat die gesin en veral haar ouers se huwelik deur troebel waters is nie.

Ons het ’n oop verhouding gehad en my ma het met my oor die verhouding gepraat. Sy was baie eerlik met my.

Packham moes in 2010 sy onderneming sluit en die gesin het finansieel swaargekry. Hulle moes hul huise in Rondebosch en Hermanus verkoop, en Packham het lank geneem om weer werk te kry.

“My ma was kwaad vir hom omdat ons die huis verloor het, maar sy was optimisties dat alles beter sou word,” het Meyer getuig. Die gesin se omstandighede het verbeter en haar ma het ’n inkomste begin verdien deur twee van haar woonstelle uit te verhuur en die gesin finansieel te ondersteun.

Meyer het by die hof gepleit en gesê sy weet die hof het ’n moeilike taak om haar pa te vonnis, maar sy wou net die hof inlig oor die impak wat haar pa op haar lewe gehad het.

“Ons wil graag hê hy moet dieselfde impak op my kinders en my suster se kinders hê. So asseblief, moet hom nie vir ewig tronk toe te stuur nie.”

In kruisondervraging het die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, verskeie moeilike vrae aan Meyer gestel, veral oor haar ma wat ’n groot rol gespeel het om finansieel tot die gesin by te dra. Sy moes eiendom verkoop toe Packham hul huise verloor het. Sy het verskeie eiendomme gehad wat in haar naam geregistreer was. Later het sy ook begin werk om finansieel by te dra.

My pa het nie van konflik gehou nie.

“As jou pa vir julle gesorg het, hoekom moes jou ma werk?” het Galloway gevra.

“Sy het die verhuring van die woonstelle geniet en dit het ons finansieel ondersteun terwyl my pa nie werk gehad het nie. Hulle het alles verloor en moes van voor af begin,” het Meyer geantwoord.

“So jou pa het nie alleen vir julle gesorg nie? Jou ma was die een wat die familie finansieel gedra het?”

Meyer het dit bevestig, maar gesê dit was net totdat Packham weer ’n werk gekry het.

Galloway het Meyer gevra om haar pa se optrede tydens ’n rusie met haar ma te beskryf.

“My pa het nie van konflik gehou nie. Hy sou gefrustreerd raak en ander kere sou hy probeer vrede maak.”

Dit het gedurende die verhoor aan die lig gekom dat Gill Packham aan skei gedink het. Meyer het egter getuig dat sy nie daarvan geweet het nie.

Oor haar pa, wat sy as ’n “wonderlike mens” beskryf het, het Galloway vir Meyer gesê dat hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het en ook ’n ander lewe sou hê.

Jy het die hof gevra om nie jou pa vir ewig tronk toe te stuur nie, maar jy het niks getuig oor hoe jy voel oor jou ma wat nie meer hier is nie.

Meyer het gesê haar pa het die verhouding vir hulle weggesteek, maar sy kon nie op enige van die ander stellings kommentaar lewer nie.

Teen die einde van haar getuienis het Galloway vir Meyer gevra hoe haar ma se dood haar beïnvloed het.

Haar ma was nie by haar troue nie en sal ook nie daar wees wanneer sy kinders het nie.

“Jy het die hof gevra om nie jou pa vir ewig tronk toe te stuur nie, maar jy het niks getuig oor hoe jy voel oor jou ma wat nie meer hier is nie,” het Galloway gesê.

“Dit is baie traumaties en ek werk nog daardeur.”

Steyn het Meyer ook pertinent gevra om haar ma aan die hof te beskryf.

“Sy was ’n wonderlike, vriendelike mens. Goeie vrou en suster. Sy het die grootste hart gehad. Ek het my ma verloor en ek weet nie hoe om dit te beskryf nie,” het Meyer gesê.

“Haar dood het ’n groot gat in my lewe gelaat, in almal se lewens, ook in my pa se lewe.”

Meer oor:  Rob Packham  |  Kaapstad  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.