Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Packham ‘moet nog besluit oor appèl teen vonnis’

Rob Packham se regspan konsulteer nog met hul kliënt oor of hy gaan appelleer teen die 22 jaar tronkstraf wat Woensdag aan hom opgelê is weens die moord op sy vrou, Gill.

Ben Mathewson, Packham se prokureur, het ná die vonnisoplegging gesê hy moet nog met Packham konsulteer en opdrag hieroor van hom kry.

Regter Elize Steyn het Packham in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis nadat hy in Mei skuldig bevind is op aanklagte van moord en regsverydeling.

Packham het Gill op 22 Februarie 2018 vermoedelik in hul huis in Constantia, Kaapstad, vermoor en haar lyk in die kattebak van haar eie groen BMW gelaai voordat hy die motor by die Dieprivier-treinstasie gaan los het. Hy het die motor later aan die brand gesteek om van bewyse ontslae te raak.

Die media neem Rob Packham Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad af terwyl hy geboei word. Hy is hier pas tot 22 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op sy vrou.Foto: Jaco Marais

Steyn het in vonnisoplegging baie klem geplaas op geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika. Sy het gesê deur net te kyk na watter sake die howe aanhoor, is dit baie duidelik dat dié tipe geweld ’n probleem van epiese omvang is.

Sy het die belange van die gemeenskap onderstreep en gesê kwesbare vroue en kinders moet deur die Grondwet beskerm word en die hof het hierin ’n rol te speel.

“Daarom word ’n swaar straf geregverdig om sodoende as afskrikmiddel te dien en die erns van die misdaad te beklemtoon.”

Rob Packham staan en luister terwyl regter Elize Steyn hom vonnis.Foto: Jaco Marais

Steyn het dele van regter Gayaat Salie-Hlophe se uitspraak in die Jason Rohde-saak aangehaal waar daar verwys is na internasionale statistieke om die erns van misdaad teen vroue, en meer spesifiek gesinsgeweld teen vroue, uit te lig.

As verswarende faktore het Steyn gesê Packham het nie die heiligheid van Gill se lewe gerespekteer nie en ook nie dit wat haar lewe vir haar en haar familie beteken het nie.

“Hy moes haar ondersteun, beskerm en bygestaan het.”

Gill sou kwesbaar in haar eie huis gewees het omdat dit sou wees waar sy veilig gevoel het. Steyn het gesê Packham besef nie of gee nie om watter trauma hy veroorsaak het nie.

Rob Packham word na die aanhoudingselle geneem nadat hy 22 jaar tronkstraf opgelê is.Foto: Jaco Marais

Sy het bevind in dié saak weeg vergelding en afskrikwaarde swaarder as Packham se rehabilitasie.

Packham het sy kop telkemale geskud terwyl Steyn hom gevonnis het.

Sy het gesê Gill was baie getraumatiseerd deur Packham se buite-egtelike verhouding, maar was lojaal en wou die huwelik red. Sy was onder die indruk haar man wou ook.

“Die motief vir die moord is nooit bekend gemaak nie, maar dit blyk dat dit weens frustrasie en woede was,” het Steyn gesê.

Virginia Humphrey (in die blou baadjie), Gill Packham se suster, in die hof nadat haar suster se moordenaar tronk toe gestuur is. Foto: Jaco Marais

Sy het Packham se optrede nadat hy sy vrou vermoor het as “moreel afkeurenswaardig” beskryf en dit as “die mees brutale optrede” bestempel, nie net omdat hy sy eie vrou vermoor het nie, maar omdat hy sy dogters se ma van hulle weggeneem het.

Benewens die feit dat Packham nie tydens vonnisoplegging getuig het nie, het Steyn gesê hy het nooit tydens sy getuienis in die verhoor gesê hy mis haar nie.

Steyn het bevind die verswarende faktore weeg swaarder as sy persoonlike omstandighede en sy optrede is moreel onaanvaarbaar.

“Hy het stelselmatig en op ’n brutale manier beplan om van enige bewyse van sy lafhartige optrede ontslae te raak.”

Judith Markwell, Rob Packham se suster, en Nicola Packham, Rob se jongste dogter, in die hof nadat hy tot 22 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Foto: Jaco Marais

Steyn het Packham soos volg gevonnis:

* Op aanklag van moord: 20 jaar gevangenisstraf; en

* Op aanklag van regsverydeling: vier jaar tronkstraf, waarvan twee jaar samelopend met die 20 jaar uitgedien moet word.

Hy moet dus effektief 22 jaar tronkstraf uitdien.

Packham sal die helfte van dié straf moet uitdien voordat hy aansoek om parool sal kan doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.