Bloed in Gill en Rob Packham se gedeelde en suite-badkamer, in die motorhuis en aan die binnekant van Packham se motordeur het daartoe gelei dat hy van haar moord aangekla word.
Packham het Maandag vlugtig in 'n blou en wit geruite hemp en blou langbroek in die landdroshof in Wynberg verskyn.
Die Packhams se dogters, Kerry-Ann en Nicola, en Gill se suster, Vivian Humphrey, was in die hof toe die staatsaanklaer Brynmor Benjamin die feite van Gill se verdwyning uiteengesit het. Packham het vlugtig oogkontak met sy familie gemaak.
Packham was die oggend van Gill se verdwyning veronderstel om by die werk te wees by Twizza-koeldranke waar hy die hoofbestuurder is, maar sy selfoon se sein is bespeur deur selfoontorings in Dieprivier en Constantia. Die staat beweer Packham het daardie oggend ’n kollega gebel en gesê dat die kollega moet sê hulle twee was in ‘n vergadering.

Rob en Gill Packham se twee dogters, Kerry-Ann en Nicola - voor regs en agter regs - Maandag by die hof. Foto: Adrian de Kock
Die oggend van Gill se verdwyning is ’n voertuig sonder ’n registrasienommer, soortgelyk aan Packham se voertuig, omstreeks 07:35 naby die toneel opgemerk waar Gill se BMW later die aand uitgebrand het. Die beskrywing van die bestuurder pas Packham glo. Volgens die staat het die voertuig weggejaag, maar is dit deur 'n ooggetuie gesien, asook op veiligheidskameras vasgevang.
Die polisie se forensiese eenheid het bloed in die motorhuis van die Packhams se huis in Costantia gevind, asook aan die binnekant van Packham se motordeur aan die bestuurder se kant, sowel as in die en suite-badkamer van die huis se hoofslaapkamer.
Die staat voer aan dat Packham en Gill huweliksprobleme gehad het en dat Packham ook aan ’n verslawing gelei het. Niks meer daaroor is gesê nie.
Daar was ook SMS’e en WhatsApp-boodskappe waarin Packham sê dat hy daaraan dink om dinge tussen hom en sy vrou te beëindig.
Die staat voer aan dat indien Packham vrygelaat word op borgtog, materiële bewysstukke dalk verlore kan gaan. Hulle is steeds na Gill se selfoon en ander bewysstukke op soek.
Packham word in verband met regsverydeling en moord aangehou.
Gill, ’n administratiewe beampte by die Springfield Convent in Wynberg, is op Donderdag 22 Februarie as vermis by die Dieprivier-polisiekantoor aangemeld, na verneem word deur haar dogter Nicola wat in Johannesburg woon. Dit was nadat sy haar ma dié dag glad nie in die hande kon kry nie.

Gill Packham se suster, Vivian Humphrey. Foto: Adrian de Kock
Sy het toe aan die polisie gesê dat Gill omstreeks 07:00 laas gesien is toe sy haar huis in Rieslingstraat, Constantia, verlaat het om werk toe te gaan. Sy het egter nooit by die skool opgedaag nie.
Daardie Donderdagaand het die polisie na Massingerstraat agter die Dieprivierspoorwegstasie gegaan nadat hulle ingelig is van ’n voertuig wat onder die bome daar brand. Nadat die vuur geblus is, het hulle die verkoolde lyk van ’n vrou in die kattebak aangetref.
’n Week later is Packham by hul huis in hegtenis geneem.
Landdros Goolam Bawa het die saak tot Vrydag uitgestel weens ’n dispuut oor die erns van die misdaad. Die nasionale direkteur van openbare vervolging sal ’n besluit moet neem of die erns van die saak dit 'n skedule 5- of 6-misdaad maak.
Packham bly in aanhouding in die Pollsmoor-gevangenis en nie in die selle by Dieprivier soos sy regsverteenwoordiger, Ben Mathewson, gevra het nie.