Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Packham-regspan bevraagteken getuienis

Rob Packham se regspan het twyfel probeer saai oor die getuienis van een van die staat se ooggetuies.

Adv. Craig Webster SC, vir Packham, het Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad die verdediging se eerste getuie, ao. Steven Young van die Dieprivier-polisiekantoor, geroep.

Young was die kommissaris van ede toe Kenan Thomas, een van die ooggetuies wat Packham glo op die toneel gesien het, sy beëdigde verklaring afgelê het.

Thomas het in die hof getuig die man wat hy in ’n Audi Q5 van die Dieprivier-treinstasie af sien wegry het, was ’n mengsel van ’n bruin en wit man, of ’n bruin man wat baie lig van kleur is.

In sy verklaring het hy egter aan die “bestuurder” gesê hy het ’n bruin man wat lig van kleur is, tussen die ouderdom van 30 en 35, in ’n wit sportnutsvoertuig van die toneel af sien wegry.

Rob Packham kyk na die kamera voordat die negende dag van sy verhoor begin.Foto: Jaco Marais
Ao. Steven YoungFoto: Jaco Marais

Webster het Young gevra om sy betrokkenheid by die neem van Thomas se verklaring aan die hof te verduidelik. Hy het getuig hy was nie teenwoordig toe sy kollega, net bekend as ao. Loubser, Thomas se verklaring afgeneem het nie. Nadat die verklaring geneem is, het Loubser dit op ’n geheuestokkie gelaai en uitgedruk. Young se besonderhede was op die dokument omdat hy gewoonlik Loubser se verklarings as kommissaris van ede onderteken.

“Ek het dit toe ook gedoen. Die verklaring is uitgedruk en aan Thomas voorgelees. Hy wou niks verander nie en was tevrede met die verklaring,” het Young getuig.

Young het getuig indien die getuie iets wou regstel, sou hulle dit daar gedoen het en Thomas sou aan die einde die verklaring onderteken. Indien hy op ’n latere tydstip sy verklaring wou verander, sou ’n aanvullende verklaring afgeneem word. Die oorspronklike verklaring sou nie verander word nie.

Young het getuig Thomas wou nooit sy verklaring aanpas nie.

In kruisondervraging het die staat vir Young gevra of die korrekte prosedure gevolg is toe Thomas se verklaring afgeneem is. Young het dit bevestig.

“Indien daar iets verkeerd gegaan het, sou Thomas nie noodwendig daarvan geweet het nie,” het adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, dit aan Young gestel.

Hy het dit beaam.

Webster het ná die staat se kruisondervraging die hof versoek om die saak tot aanstaande kwartaal uit te stel omdat die tweede getuie, Loubser, oorsee is.

Regter Elize Steyn het die versoek toegestaan en die saak tot 15 April verdaag.

Rob Packham praat met sy twee dogters, Kerry (links met die donkerblou trui) en Nicola. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Rob Packham  |  Packham-Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.