Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pampoenkraal: 'Ons weet wie brande stig'

Sedert die beskuldigdes in ’n moordsaak in eMkhondo (Piet Retief) op borgtog vrygelaat is, het Pampoenkraal en die omliggende plase reeds sowat 4 000 ha veld in brande verloor.

Die brande word vermoedelik doelbewus, en soms selfs helder oordag, op die plase naby eMkhondo (Piet Retief) in Mpumalanga gestig uit ontevredenheid omdat onder andere die eienaars van die plase aan die begin van Julie op borgtog vrygelaat is.

Hulle en nog beskuldigdes in ’n tweede moordsaak, wat uit ’n ander voorval op Pampoenkraal spruit, het Vrydag weer vlugtig in die plaaslike hof verskyn.

Albei die sake is tot 10 September uitgestel.

Al agt die beskuldigdes in ‘n moord- en aanrandingsaak op die plaas Pampoenkraal tydens 'n vorige hofverskyning. Voor van links is Patrick Zenzele Yende, Werner Potgieter, Elliot Madodeni Dlamini en Mabheki Moses Dlamini. Agter is Cornelius Lourens Greyling, Zukhumbuzo Zikalala, Mzwakhe Cornelius Dlamini en Vincent Nkosiwathi Msibi. Foto: Isabel Venter

In die een saak word die eienaars van die plaas, Werner Potgieter (49) en sy stiefseun, Cornelius Lourens (Corneel) Greyling (25), saam met plaaswerkers aangekla. Hulle is Zenzele Patrick Yende (45), Elliot Madodeni Dlamini (60), Mabheki Moses Dlamini (58), Zukhumbuzo Zikalala (25), Mzwakhe Cornelius Dlamini (49) en Vincent Nkosinathi Msibi (26).

Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, menseroof en regsverydeling weens ’n voorval van beweerde aanranding in Augustus verlede jaar op Pampoenkraal.

Sifiso Joseph Thwala en Musa France Nene het gesterf nadat hulle na bewering met ’n sambok geslaan en gemartel is.

Die beskuldigdes is op 15 Junie borgtog geweier, maar regter J. Mtimunye het daarna in die hooggeregshof in Middelburg bevind dat landdros Dumisani Nxumalo gefouteer het.

Mtimunye het bevind dat Nxumalo onder meer nie in ag geneem het dat die ondersoekbeampte nie ses van die agt beskuldigdes se beweerde alibi’s nagegaan het nie, en ook nie genoeg aandag aan hul persoonlike omstandighede gegee het nie.

Potgieter, Greyling en Yende staan ook in die tweede (onverwante) saak saam met drie ander op die moord op Amos en Zenzele Coka tereg. Hulle is op 9 April vanjaar op Pampoenkraal doodgeskiet.

Ursula Greyling-Potgieter, Potgieter se vrou en Greyling se ma, sê hulle het tot dusver sowat agt sake van brandstigting by die polisie ingedien.

“Ons is baie dankbaar teenoor brig. Mavuso en die ondersoekbeampte Ao. Khubeke wat met die sake werk. Hulle is wonderlik en oorweeg selfs om die honde-eenheid in te bring. Ons weet wie die brandstigters is en daar was ooggetuies wat hulle met die laaste brande gesien het. Ons is dus vol vertroue dat daar dalk binnekort inhegtenisnemings gaan wees.”

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het Vrydag bevestig dat brandstigting ondersoek word, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Greyling-Potgieter sê die sake teen die mans is “’n politieke komplot wat die hart van ons boerdery uitgeruk het”.

Volgens haar hou dit verband met ’n jare lange stryd teen veediewe en pogings om boere se maatreëls daarteen in die wiele te ry.

“Ons beplan om binnekort sake in verband hiermee aanhangig te maak. Hier is ook mense in die plaaslike gemeenskappe wat plaaswerkers aanhits en vals beloftes aan hulle maak. Daar word gereeld vee op die plaas gesteel. Niemand is nog in hegtenis geneem weens die aanranding op Werner (tydens die April-voorval) nie. Hy was twee weke in die hospitaal.”

• Die oorledenes se families wou vroeër nie kontakbesonderhede by die hof verskaf nie, het Isabel Venter berig.

Meer oor:  Emkhondo  |  Plase  |  Moordsaak  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.