Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pampoenkraal: ‘Getuies se praatjies stem nie ooreen’
Patrick Zenzele Yende en Werner Potgieter, vasgeboei aan mekaar, stap Donderdag van die aanhoudingselle tot by die hof in eMkhondo (Piet Retief) in Mpumalanga. Foto: Isabel Venter

Die oggend- en aandpraatjies van staatsgetuienis in ’n moord- en aanrandingsaak wat verband hou met ’n voorval op die plaas Pampoenkraal in Mpumalanga stem nie ooreen nie.

Dié plaas en sy mense is vir ’n tweede keer in die nuus nadat twee broers na bewering op 9 April daar doodgeskiet is.

Adv. Jaap Cilliers SC, namens die agt beskuldigdes, het dit Donderdag in kruisondervraging aan die hoofondersoekbeampte gestel dat sy getuies se verklarings in baie opsigte verskil.

Die staat beweer Werner Potgieter (48), Cornelius Lourens Greyling (25) en hul werkers Zenzele Patrick Yende (45), Elliot Madodeni Dlamini (60), Mabheki Moses Dlamini (58), Zukhumbuzo Zikalala (25), Mzwakhe Cornelius Dlamini (49) en Vincent Nkosiwathi Msibi (26) is skuldig aan die moord op Sifiso Joseph en Musa France.

Vier van die agt beskuldigdes in die saak Donderdag in die beskuldigdebank. Van links is Cornelius Lourens Greyling (25), Zukhumbuzo Zikalala, Mzwakhe Cornelius Dlamini en Vincent Nkosiwathi Msibi. Foto: Isabel Venter

Dié moorde is glo op 9 Augustus 2020 gepleeg. Sifiso se broer Christopher Sthembiso Thwala is glo ook ernstig aangerand.

Verlede week het die hof ’n opsomming gehoor van Thwala se verklarings aan die ondersoekbeampte, ao. Vukile Nhlapho, oor hoe hy na bewering gruwelik aangerand is.

Nhlapho het getuig sy ander staatsgetuies – voormalige werkers van Pampoenkraal – se weergawes staaf grootliks dié van Thwala.

Thwala het verklaar hy en die twee oorledenes het met ’n pap wiel langs die pad gaan staan. Hulle is toe glo oorval en met sambokke geslaan en hul geslagsdele is met ’n tang geknyp.

Een van die getuies, wat deel van die beweerde aanval was, het glo gesien hoe Potgieter ook deel van die voorval was. Potgieter sou na bewering die drie mans om die beurt op hul nek en ore met ’n skokstok skok.

Cilliers het Donderdag volgehou dié getuies se weergawes verskil van Thwala se weergawe.

Al agt die beskuldigdes in ‘n moord- en aanrandingsaak op die plaas Pampoenkraal staan Donderdag saam in die beskuldigdebank. Voor van links is Patrick Zenzele Yende, Werner Potgieter, Elliot Madodeni Dlamini en Mabheki Moses Dlamini. Agter is Cornelius Lourens Greyling, Zukhumbuzo Zikalala, Mzwakhe Cornelius Dlamini en Vincent Nkosiwathi Msibi. Foto: Isabel Venter

Hy het verder verwys na ’n onderhoud wat Thwala met die SAUK se Special Assignment gehad het. Dié onderhoud is in Februarie vanjaar uitgesaai.

Thwala se weergawe in die onderhoud verskil heeltemal van sy verklaring aan die polisie, aldus Cilliers.

“Volgens die onderhoud was vier van die beskuldigdes wat vandag in die hof is, nie eens teenwoordig toe die beweerde aanranding plaasgevind het nie,” het Cilliers gesê.

Die staat het ’n aansoek teengestaan dat ’n getranskribeerde rekord van die onderhoud ingedien word. Volgens adv. Vuyo Mkhulise, staatsaanklaer, is die persoon in die onderhoud se gesig uitgeblok. Joernalistieke inligting kan nie ingedien word as ’n beëdigde verklaring by die hof nie, aldus Mkhulise.

Cilliers het betoog dit is van die uiterste belang dat die hof van die onderhoud kennis neem.

Landdros Dumisani Nxumalo het Cilliers se versoek toegestaan en gesê ’n besluit oor die belangrikheid daarvan sal gemaak word wanneer die totaliteit van die getuienis in ag geneem word.

Werner Potgieter (regs) en sy stiefseun Cornelius Lourens Greyling het Donderdag kort-kort hul regsverteenwoordigers in die hof gekonsulteer. Foto: Isabel Venter

Nhlapho het volgehou die inligting stem oorheen met die verklarings wat hy afgeneem het van Thwala en die staatsgetuies.

Daarvolgens is die twee oorledenes en Thwala erg aangerand toe hul voertuig langs die pad gaan staan het. Hulle is toe glo na Pampoenkraal gevat en verder aangerand en twee skape is in hul voertuig geplant om dit te laat lyk asof hulle veediewe is.

Potgieter sou na bewering in ’n stadium opdrag gegee het dat die drie mans skoon gewas moet word. Ná die beweerde aanranding het vier plaaswagters agtergebly. Een van hulle was die getuie, wat gebly het om die drie mans op te pas tot dagbreek, toe die polisie gebel sou word.

Die oggend het hulle besef twee van die drie mans is dood.

Luidens die agt beskuldigdes se beëdigde verklarings het niemand gesien hoe die twee oorledenes dood is nie.

“Die beskuldigdes dring daarop aan dat hul verklarings waar is en dat die feitlike inhoud, soos wie wat gedoen het, deur die verhoorhof getoets moet word,” het Cilliers Donderdag hieroor gesê.

Nhlapho het sy stelling ontken omdat hy ál die getuienis in hul geheel beoordeel het.

“Maar dit is vir die hof om te besluit of borgtog toegestaan moet word of nie,” het hy bygevoeg.

Hy het verder aan Cilliers gesê die kans is groot dat die agt beskuldigdes op die vlug sal slaan. Volgens Nhlapho het Yende, Moses en Muziwakhe gaan wegkruip toe die polisie hulle einde Mei vanjaar in hegtenis wou neem.

Dit maak nie ’n dooie duit verskil of hulle later self aangemeld het by die polisie nie, het Nhlapho op ’n vraag van Cilliers geantwoord.

“Die drie het eers probeer vlug.”

Selfs Msibi, wat uit eie wil uit die Oos-Kaap aangemeld het by die polisie, verdien geen genade nie.

Luidens Nhlapho wou hy Msibi nie uitbuit nie en het hy vir hom gesê om sy weergawe eerder aan die hof te stel.

Cilliers het dit ontken en gesê Msibi is uitgenooi om ’n staatsgetuie te word, maar het die aansoek van die hand gewys.

“Hy het aan die polisie gesê sy weergawe stem nie ooreen met dié van die staatsgetuies nie en hy wou nie geen valse verklarings indien nie,” aldus Cilliers.

Nhlapho het dit ontken.

Die staat het toe sy saak gesluit.

Die verrigtinge sal Vrydag hervat.

• Potgieter, Greyling en Yende staan saam met nog drie beskuldigdes ook tereg in die moordsaak van April vanjaar. In dié saak is die broers Zenzele en Amos Coka glo ná ’n arbeidsdispuut vermoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.