Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Panayiotou-appèl: ‘Hof het gefouteer oor Siyoni’

Die veroordeelde moordenaar Christopher Panayiotou se aansoek om verlof tot appèl is grootliks daarop gegrond dat die hof verkeerdelik Luthando Siyoni, die vermeende middelman, se getuienis toegelaat het.

Adv. Terry Price SC, Panayiotou se regsverteenwoordiger, het Woensdagmiddag in die hooggeregshof in Port Elizabeth aangevoer regter Dayalin Chetty het ’n fout begaan deur te bevind Siyoni is nie aangerand nie.

Adv. Marius Stander sit Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth terwyl hy hom voorberei vir die aansoek. Foto: Lulama Zenzile

Price het namens Panayiotou, wat in November aan die huurmoord op sy vrou, Jayde, skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis is, ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien om teen sy skuldigbevinding te appelleer.

Panayiotou was nie in die hof teenwoordig nie, maar sy ouers, Costa en Farnoula, en Jayde se ma, Michelle Inggs, was wel in die hof.

Jayde is in April 2015 voor die Panayiotous se meenthuis ontvoer en is later vermoor.

Siyoni was die eerste verdagte wat in hegtenis geneem is.

Hy het ’n bekentenis afgelê waarin hy gesê het Panayiotou het hom betaal om ’n huurmoordenaar te kontrakteer.

Kort hierna het Siyoni ’n ontmoeting met Panayiotou gereël. Die ontmoeting het in ’n ongemerkte polisievoertuig plaasgevind, waartydens beeld- en klankopnames gemaak is. In die video, wat as bewysstuk voor die hof gedien het, sê Panayiotou aan Siyoni dit moes soos ’n roof gelyk het, maar nou lyk dit soos ’n huurmoord. Panayiotou het ook vir Siyoni ’n bedrag geld gegee en hom aangesê om vir ’n ruk laag te lê.

Michelle Inggs, die vermoorde Jayde Panayiotou se ma, was Woensdag in die hof toe haar dogter se moordenaars aansoek om verlof tot appèl gedoen het. Foto: Lulama Zenzile

Siyoni het hierop ’n art. 204-staatsgetuie geword. Dit sou aan hom vrywaring van vervolging bied, mits die hof bevind dat hy eerlik getuig het.

Price het Woensdag aangevoer die hof moes nie Siyoni se getuienis toegelaat het nie.

Hy sê Siyoni was ’n beskuldigde en sy getuienis teen Panayiotou kan nie aanvaar word nie.

Price het ook verwys na die aand toe Siyoni in hegtenis geneem is en hy van Port Elizabeth na ’n polisiekantoor in Uitenhage geneem is. Price het gesê Siyoni is hier deur die polisie aangerand en gedwing om ’n verklaring af te lê. Hy meen die verklaring kan nie toegelaat word as bewysstuk nie.

Hy sê Siyoni is ook gedreig deurdat aan hom gesê is hy moet praat, of hy gaan lewenslank tronk toe.

Price sê al het Siyoni aan drie polisiebeamptes gesê hy is aangerand, het die hof bevind hy is nie aangerand nie.

Price het ook verwys na die afwesigheid van lasbriewe om Siyoni se huis, sy ma se huis, asook die huis van Babalwa Breakfast, Siyoni se vriendin, te deursoek. Hy voer aan alle bewyse wat dus hier gevind is, is nie in die hof toelaatbaar nie.

Christopher Panayiotou (links) en sy medebeskuldigdes, Sinethembe Nenembe (middel) en Zolani Sibeko (regs), tydens ’n vorige hofverskyning saam in die hof. Foto: Argief

Hy het ook aan Chetty gesê die hof moet alle aspekte van bewyse hanteer, maar Chetty het verskeie bewyse geïgnoreer en nie in sy uitspraak genoem nie.

Breakfast se swak sig is nie genoem nie, al het ’n dokter getuig sy is wettig blind. Hy sê ’n ander hof sal dalk bevind dat Breakfast weens haar swak sig nie haar verklarings kon lees nie en daarom is daar verskille in haar twee verklarings oor die aand toe Panayiotou glo geld vir die huurmoord afgelaai het.

Price meen ’n ander hof kan heel moontlik bevind Siyoni is aangerand. Dit kan die saak in ’n ander rigting neem.

Peter Daubermann, die regsverteenwoordiger van Panayiotou se medebeskuldigdes Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko, het ook aansoek gedoen om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding.

Nenembe is lewenslange tronkstraf opgelê en nog 15 jaar weens roof met verswarende omstandighede.

Sibeko is 15 jaar tronkstraf opgelê weens sameswering om moord te pleeg.

Daubermann het nie redes aangevoer nie.

Adv. Marius Stander, staatsaanklaer, het geantwoord deur te sê die toets vir ’n geslaagde aansoek is nie of ’n ander hof anders sal bevind nie, maar eerder wat die realistiese kans daarvoor is.

Stander het gesê hy glo alles wat nodig is, reeds voor die hof was. Hy meen nie ’n ander hof sal tot ’n ander slotsom kom nie.

Chetty sal Donderdag uitspraak lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.