Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Boer sê hy is jammer

Beskuldigde een, Boeta van der Westhuizen, het Donderdag aan die familie van Samuel Tjixa en Simon Jubeba gesê hy is jammer oor dit wat op 6 Januarie 2016 gebeur het en oor sy aandeel daarin.

Johan Vorster, Anton Loggenberg se prokureur, praat met hom buite die hof. Foto: Alet van der Walt

Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie 2016 deur ’n groep mans buite Parys in hegtenis geneem nadat Van der Westhuizen se pa, Loedie sr., op sy plaas aangeval is.

Tjixa en Jubeba is op 7 Januarie in die hospitaal dood en ses mans van Parys word daarvan aangekla dat hulle die twee so erg aangerand het dat hulle dood is.

’n Emosionele Van der Westhuizen het Donderdag aan adv. Piet Pistorius, sy regsverteenwoordiger, gesê hy het reeds lankal opdrag aan sy vorige regspan gegee om met die familie van die oorledenes te praat oor ’n vorm van vergoeding en ook oor versoening.

“Dit gaan nie daaroor om myself vry te koop nie, maar omdat ek ook ’n seun het vir wie ek baie lief is,” sê Van der Westhuizen.

Hy het aan die hof gesê hy was verstom oor dit wat die art. 204-getuies in die hof kwytgeraak het om hul eie bas te red.

“Dit is bitter hartseer, want dis naby familie, dit is bloedfamilie.”

Van der Westhuizen het ook oor die invloed van die gebeure op hom, sy medebeskuldigdes en hul gesinne getuig.

Ek was ’n maand vir psigiatriese behandeling opgeneem en het huweliksprobleme. My jongste kind moes by die skool hoor haar pa is ’n moordenaar en sy is op medikasie.

“Ek was ’n maand vir psigiatriese behandeling opgeneem en het huweliksprobleme. My jongste kind moes by die skool hoor haar pa is ’n moordenaar en sy is op medikasie.”

Van der Westhuizen was baie emosioneel toe hy vertel hoe sy pa verswak het ná die aanval op hom en dat alles verval het ná sy dood in 2018.

Sy verhouding met sy seun, ook Loedie, en ’n medebeskuldigde is nie goed nie omdat Loedie sedert die gebeure ’n muur om hom gebou het, het Van der Westhuizen getuig.

Loedie was 17 jaar ten tye van die gebeure.

Adv. Hennie du Plessis, links, en Miela Janse van Vuuren buite die hof in Parys. Boeta van der Westhuizen en sy seun, Loedie, is links agter hulle.Foto: Alet van der Walt

“Tot vandag toe weet ek nie hoe Loedie dit verwerk nie.”

Pistorius het Van der Westhuizen uitgevra oor hoe die gebeure die ander medebeskuldigdes beïnvloed.

“Ek weet nie hoe hou Anton nog kop bo water nie, hy het alles wat hy besit in die hofsaak ingesit, hy is finansieel geruïneer,” het hy oor Anton Loggenberg, beskuldigde nommer twee, gesê.

Loggenberg se seun, Cor, ook ’n beskuldigde, moes sy studies laat vaar en sy lewe het ’n hele ander wending geneem, het Van der Westhuizen aan die hof gesê.

Hy het getuig dat Miela Janse van Vuuren, sy skoonseun, antidepressante gebruik en dat Henk Prinsloo sy eiendom moes verkoop om sy regskoste te betaal.

Prinsloo se kinders moes berading ontvang en Prinsloo, ’n polisielid, is geweldig onseker oor sy vooruitsigte in die polisiediens.

Regter Corné van Zyl het die verhoor tot Maandag uitgestel wanneer ’n mediese kenner oor die aard van Jubeba en Tjixa se beserings sal getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.