Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: ‘Daar is nie gekonkel’

Die aanklaer in die vigilante-moordverhoor in Parys, adv. Jabulani Mlotshwa, het Maandag aan die beskuldigde Henk Prinsloo gesê die diefstalondersoek teen ’n staatsgetuie is al laat vaar voordat die moorde op 6 Januarie 2016 gepleeg is.

Henk Prinsloo se kruisverhoor in die rondgaande hof in Parys is Maandag afgesluit. Die hoftolk, Jeremiah Tollie, staan in die agtergrond.Foto: Alet van der Walt

Prinsloo het verlede Donderdag getuig dat ’n klag teen Tom Direko laat vaar is net nadat Direko bereid was om ’n verklaring af te lê wat Prinsloo by die moorde betrek.

Prinsloo het getuig hy glo die ondersoekers kon dalk ’n ooreenkoms met Direko aangegaan het.

Mlotshwa het onder kruisverhoor gesê dat Direko se prokureur, Jan Ellis, reeds in November 2015 ’n brief van die direkteur van openbare vervolging ontvang het om Ellis in te lig dat die saak teen Direko teruggetrek gaan word.

Mlotshwa het aan Prinsloo gesê die saak is op 8 Februarie 2016 formeel in die hof teen Direko en sy medebeskuldigdes teruggetrek.

Prinsloo het gesê hy betwis nie dit wat Mlotshwa sê nie, maar dit is vir hom vreemd dat Ellis nooit vir Direko ingelig het dat die saak teen hom laat vaar is nie.

Direko, Ockert van Zyl en Mbuzeni Xhalisa het vir die staat getuig dat Prinsloo een van die oorledenes met ’n skokstok, wat vir beeste gebruik word, geskok het.

Prinsloo ontken dit en sê hy het net ’n flits wat ook ’n skokapparaat is, op die toneel gehad. Die flits se battery was egter glo pap en die skokapparaat het nie gewerk nie.

Van Zyl het in sy getuienis gesê hy het nooit die kenmerkende geluid gehoor wat ’n mens hoor wanneer ’n skokapparaat gebruik word nie.

Prinsloo het aan die hof gesê Hannes Grimbeek, sy prokureur, het aan hom gesê dat Direko aan sy werkgewer, Kobus Dannhauser, ’n boer van Parys, gesê het hy voel sleg oor die verklaring wat hy afgelê het omdat hy wat Direko is, nie eintlik gesien het wat daardie aand gebeur het nie.

Die flits se battery was egter glo pap en die skokapparaat het nie gewerk nie.

Cor Loggenberg, beskuldigde nommer vier, het Maandag ’n skulderkenning ingevolge art. 220 van die Strafproseswet ingedien waarin hy erken hy het een van die mans een hou met ’n rottangkierie oor sy maermerries geslaan.

Die verhoor spruit uit die dood van twee mans, Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie 2016 ná ’n plaasaanval deur ’n groep mans buite Parys aangekeer.

Die staat voer aan Prinsloo en nog vyf mans, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen (jr.) en Miela Janse van Vuuren, het Tjixa en Jubeba so erg aangerand dat hulle die volgende dag in die hospitaal dood is.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Adv. Jabulani Mlotshwa  |  Parys-6
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.