Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6 gaan nou verder getuig

Meer as drie jaar ná die opspraakwekkende dood van twee vermeende plaasaanvallers by Parys in die Vrystaat, Sameul Tjixa (28) en Simon Jubeba (37), word die moordverhoor van ses mans van die dorp hervat.

Die ses, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren, word van die moord op Tjixa en Jubeba aangekla.

Beskuldigde nommer een, Boeta van der Westhuizen, sal Dinsdag verder in die vigilante-moordverhoor in Parys getuig. Regs van hom sit die hoftolk, Jeremiah Tollie. Foto: Alet van der Walt

Boeta van der Westhuizen, wat in Mei 2018 begin getuig het, sal Dinsdag weer in die getuiebank wees.

Die verdediging het Maandag vir uitstel gevra sodat Van der Westhuizen weer na bandopnames van die hofverrigtinge in Mei 2018 kan luister om sy geheue te verfris.

Van der Westhuizen se getuienis onder kruisverhoor het daartoe gelei dat die ses mans se regspan hulle op 16 Mei aan die verhoor onttrek het.

Van der Westhuizen se getuienis verskil van die getuienis van die ander beskuldigdes, wat daartoe gelei het dat daar ’n botsing van belange is.

Die mans moes almal nuwe regsverteenwoordigers aanstel en die verhoor is tot vanjaar uitgestel sodat die nuwe regspan vir die verhoor kon voorberei.

Die beskuldigdes sal na verwagting nou almal in die komende drie weke getuig oor die gebeure op 6 Januarie 2016.

Van der Westhuizen se pa, Loedie, is op dié dag op sy plaas, Biesiesbult, in die Weiveldgebied buite die dorp aangeval.

Die bejaarde Loedie het ’n noodknoppie gedruk waarna tientalle mans van die omgewing hom te hulp gesnel het.

Tjixa en Jubeba is op ’n naburige plaas aangekeer maar so erg aangerand dat hulle die volgende dag aan hul beserings dood is. Dr. Buang Lairi, ’n staatspatoloog, het in 2017 getuig dat die mans erge kopbeserings opgedoen het wat tot hul dood kon lei.

Die staat het aanvanklik 13 mans weens die moord op Tjixa en Jubeba aangekla. Die ondersoek is teen twee van die mans, Johan Cilliers jr. en Johan Cilliers sr., laat vaar terwyl Cilliers sr. se kleinseun, Riaan Swart, ingevolge ’n pleitooreenkoms gevonnis is.

Vier ander mans, Fanie Oosthuizen en drie Van der Westhuizens, Wian, Wikus en Müller, het almal reeds as artikel 204-getuies vir die staat getuig.

Regter Corné van Zyl hoor die saak aan en advokate Jabulani Mlotshwa en Sandile Mthethwa kla aan.

Adv. Dawie Reyneke verskyn vir Henk Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen, terwyl adv. Johan Vorster namens Anton Loggenberg verskyn.

Boeta van der Westhuizen word deur adv. Piet Pistorius verteenwoordig en adv. Hennie du Plessis verskyn vir Miela Jansen van Vuuren.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.