Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Getuie erken hy gooi man met mes in gesig
Wian van der Westhuizen, voorheen self ’n beskuldigde, het Maandag as art. 204-getuie in die verhoor van ses mans van Parys getuig. Foto: Alet van der Walt

Die vigilante-moordverhoor is Maandag in Parys in die Vrystaat se rondgaande hof hervat toe nog een van die staat se art. 204-getuies teen die ses beskuldigdes getuig het.

Wian van der Westhuizen, self voorheen ’n aangeklaagde, was in Maart 2016 in aanhouding vir die moorde op Samuel Tjixa (28) en Simon Jubeba (37).

Hy het Maandag getuig oor die rol van die ses beskuldigdes – Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren – in die aanrandings op Tjixa en Jubeba.

Tjixa en Jubeba is dood nadat hulle ná ’n mislukte plaasaanval buite Parys deur ’n groep mans gevang en so aangerand is dat hulle weens hul beserings dood is.

Van der Westhuizen en nog mans is aanvanklik ook van die moorde aangekla, maar het later op regsadvies van adv. Barry Roux besluit om vir die staat te getuig.

Adv. Coenie Pieterse, vir die verdediging, het aan Wian van der Westhuizen gevra waarom hy nie in sy hoofgetuienis ook aan die hof vertel het hoe hy self een van die oorledenes met ’n Leatherman-mes gegooi het nie. Die mes het een van die oorledenes aan die kant van sy gesig getref.

Van der Westhuizen het gesê hy het vergeet om dit te noem, maar sal onder eed die waarheid vertel.

Pieterse het aan hom gesê hy het daaroor stilgebly omdat hy gedink het die verdediging sal nie daarvan te wete kom nie. Van der Westhuizen het gesê hy het dit nie ontken nie, net vergeet daarvan.

Pieterse het aan Van der Westhuizen gesê dat hy getuig het hy het die man net een keer met die mes gegooi, maar Johan Cilliers jr., ’n onafhanklike getuie, sê dit was meer as een keer. Van die verdediging se getuies sal getuig dat dit ’n paar keer was.

Van der Westhuizen het volgehou dit was net een keer.

Pieterse het aan hom gesê hy versag sy aandeel in die gebeure op 6 Januarie 2016. Van der Westhuizen het dit ontken.

Van der Westhuizen het vroeër in sy hoofgetuienis aan die hof vertel dat Anton Loggenberg op een van die mans se koppe gespring en getrap het.

Van der Westhuizen het vroeër in sy hoofgetuienis aan die hof vertel dat Anton Loggenberg op een van die mans se koppe gespring en getrap het.

Van der Westhuizen het ook getuig dat hy een van die mans geskop het. Hy het die volgende oggend kruppel geloop en aan van die plaaswerkers vertel wat die vorige dag gebeur het.

Pieterse het aan hom gesê dat hy sou saamstem dat ’n mens redelik hard moet skop om kruppel te loop.

Van der Westhuizen het gesê sy enkels is swak omdat hy in ’n motorfietsongeluk was.

Pieterse het aan hom gesê dit kon nie sagte skoppe gewees het nie.

“Nee, maar dit was ook nie hard nie,” het hy aan die hof gesê.

Die verhoor duur voort.

Regter Corné van Zyl hoor die saak aan en advokate Jabulani Mlotshwa en Sandile Mthethwa kla aan. Kobus Burger, Gideon Mandelstam en Hannes Grimbeek tree saam met Pieterse vir die verdediging op.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.