Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Hy het kop verloor, getuig boer

“Jy is vreesbevange en verloor kop,” het Boeta van der Westhuizen, een van die beskuldigdes in die vigilante-moordverhoor in Parys, aan die hof gesê.

Die regsverteenwoordigers van Van der Westhuizen, beskuldigde nommer een, se medebeskuldigdes het hom Woensdag onder kruisverhoor geneem.

Van der Westhuizen en nog vyf mans, Anton Loggenberg, Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren word van die moord op Samuel Tjixa (28) en Simon Jubeba (37) aangekla.

Henk Prinsloo (links) en sy regsverteenwoordiger, adv. Dawie Reyneke, bespreek hier Prinsloo se verhoor. In die middel staan Boeta van der Westhuizen wat Woensdag getuig het. Foto: Alet van der Walt

Jubeba en Tjixa is ná ’n plaasaanval aangekeer en volgens die staat so erg deur die ses mans aangerand dat dit hulle dood veroorsaak het.

Van der Westhuizen het emosioneel geraak toe hy aan adv. Johan Vorster, vir Anton Loggenberg, gesê het dat dit die tweede keer was dat hy tydens ’n plaasaanval teenwoordig was.

“Ek het nie geweet hoe erg my pa se beserings is nie en daar het baie emosies deur my gegaan,” het hy gesê.

Hy het aan die hof gesê dat hy Tjixa aangerand het en aangehou ondervra het om vas te stel waar die vuurwapen is waarmee sy pa aangeval is.

Hy het geglo die vuurwapen en ’n moontlike derde verdagte is steeds ’n bedreiging vir die mense in die omgewing.

Tjixa het glo aan Van der Westhuizen gesê dat dit in ’n dam gegooi is.

Van der Westhuizen het getuig kol. Deon Topkin van die Valke het die boere later verbied om naby die dam te gaan en gesê die Valke ondersoek twee moorde en nie ’n plaasaanval nie.

Van der Westhuizen het weer emosioneel geraak toe hy getuig het van die hegte band wat tussen sy seun, Loedie jr., en sy pa, Loedie sr., was.

Loedie jr. was Loedie sr. se enigste kleinseun en het saam met sy oupa geboer.

Loedie van der Westhuizen en sy swaer, Miela Janse van Vuuren, buite die hof. Die twee mans word saam met Boeta van der Westhuizen, Loedie se pa, en nog drie mans van die moorde op Samuel Tjixa en Simon Jubeba aangekla.Foto: Alet van der Walt

Loedie sr. is verlede jaar dood.

Adv. Dawie Reyneke, vir Henk Prinsloo, het Van der Westhuizen oor Prinsloo, ’n polisielid, se optrede dié aand uitgevra.

“Hy het sy hand agter die man se kop gehou en hom ’n bietjie regop gehou sodat hy kon water drink,” het Van der Westhuizen getuig.

Reyneke het aan Van der Westhuizen gesê dat Prinsloo sal getuig dat Tjixa verstik het en dat die water by sy mond uitgekom het. Die water was bloederig.

Van der Westhuizen, wat getuig het dat Tjixa opgegooi het, het toegegee dat dit moontlik is dat hy net verstik het.

Van der Westhuizen en Prinsloo het Tjixa toe op sy sy gedraai.

Van der Westhuizen het getuig dat hy nie gesien het dat Prinsloo ’n skokstok, soos deur die staatgetuies beweer word, by hom gehad het nie.

Hy het wel ’n flitslig gebruik.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Boeta Van Der Westhuizen  |  Parys-6
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.