Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Is honde belangriker as mense, vra staat

Hy kon nie die erg beseerde mans in sy sportnutsvoertuig laai nie omdat sy pa se honde in die voertuig was, het Boeta van der Westhuizen, een van die beskuldigdes in die die vigilante-moordverhoor in Parys, Dinsdag getuig.

Van der Westhuizen is in kruisverhoor deur adv. Jabulani Mlotshwa uitgevra oor waarom die erg beseerde Simon Jubeba en Samuel Tjixa in Januarie 2016 uiteindelik agter in ’n vuil polisievangwa gelaai is.

Advokate Jabulani Mlotshwa (links) en Sandile Mthetwa tree as aanklaers in die vigilante-moordverhoor op. Foto: Alet van der Walt

Van der Westhuizen het gesê hy kon nie sy voertuig gebruik nie, omdat sy pa se honde daarin was.

Verder was sy voertuig vol omdat daar pakkies benevleis op die agtersitplek en in die bagasieruim was en daar ook gesê is hulle mag nie self die mans verskuif nie.

Die honde het die twee mans gejaag ná die beweerde mislukte plaasaanval en Van der Westhuizen het hulle by Johan Cilliers gaan haal omdat hulle by sy skape gesien is.

Mlotshwa het aan hom gevra of honde dan belangriker as mense is en of hy sal toegee dat dit onmenslik was om die mans in ’n polisievangwa te laai.

Van der Westhuizen het toegegee dat dit onmenslik was, maar gesê hulle het nie geweet waarmee die mans vervoer sou word nie.

Hy was ook nie meer op die toneel toe die polisievangwa die mans opgelaai het nie.

Mlotshwa wou by Van der Westhuizen weet of hy finansieel bygedra het tot die twee mans se begrafnisse. Van der Westhuizen het gesê dit sou op ’n skulderkenning neerkom en hy het nie.

Mlotshwa het aan Van der Westhuizen gevra of hy op die foto’s kan sien hoe vuil die bakkie is waarop die mans lê en of hy sou saamstem dat dit onmenslik is om mense op so ’n vuil voertuig te laai.

Van der Westhuizen het toegegee dat die bakkie vuil was.

Die verhoor is tot Woensdag uitgestel oor ’n moontlike botsing van belange wat eers uitgeklaar moet word.

Van der Westhuizen het onder kruisverhoor volgehou hy en Anton Loggenberg, beskuldigde twee, het met die een man gepraat en hy het hulle geantwoord.

Mlotshwa het aan Van der Westhuizen gesê twee getuies, Tom Direko en Mbuzeni Xhalisa, het gesê hulle het nie die mans gegroet nie omdat dié nie in ’n toestand was om te praat nie.

Van der Westhuizen het getuig Jubeba het aan hom gesê hulle het die vuurwapen in ’n dam naby Vickie van der Westhuizen se mielielande gegooi.

’n Foto van die twee mans agterop Loggenberg se bakkie is aan Van der Westhuizen gewys en Mlotshwa het aan hom gevra of hy saamstem dat hy die mans gesien het toe hulle so gelyk het.

Hy het dit bevestig, maar later gesê dat Jubeba se broek opgetrek was.

Op die foto is Jubeba se broek gedeeltelik afgetrek. Direko, Xhalisa en Ockert van Zyl het getuig dat Henk Prinsloo, beskuldigde drie, ’n skokstok teen Jubeba se geslagsdeel gedruk het.

Die mans het van Loedie van der Westhuizen se plaas gevlug nadat hy ’n noodknoppie gedruk het.

Van der Westhuizen het getuig Prinsloo het Jubeba in sy sy met iets gedruk. Hy was nie seker of hy hom met ’n flits of met die hand gedruk het nie.

Die verhoor is tot Woensdag uitgestel oor ’n moontlike botsing van belange wat eers uitgeklaar moet word. Dit gaan oor moontlik weersprekende getuienis wat aangebied kan word.

Regter Corné van Zyl het gesê die staat en die verdediging se regspanne het gevra dat die verhoor tot Woensdag uitgestel word.

Die verdediging wil oorweeg of almal of net sommiges aan die verhoor gaan onttrek en het aangedui dat hulle die hof Woensdag in kennis gaan stel.

Getuienis tydens kruisondervraging van Van der Westhuizen het tot die versoek om uitstel gelei. Geen redes vir die moontlike botsing van belange is verskaf nie.

Jubeba en Tjixa is op 7 Januarie 2016 dood nadat hulle die vorige dag glo by die beweerde plaasaanval op Van der Westhuizen se pa, Loedie, betrokke was.

Die mans het van Loedie van der Westhuizen se plaas gevlug nadat hy ’n noodknoppie gedruk het. Hulle is deur ’n groep mans op ’n naburige plaas in hegtenis geneem en is volgens die staat so erg aangerand dat hulle dood is.

Die staat kla nou ses mans weens die moorde aan.

Die ander drie beskuldigdes is Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren

Adv. Koenie Pieterse, Kobus Burger, Gideon Mandelstam en Hannes Grimbeek verteenwoordig die ses mans.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.