Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: ‘Jy sal soos ’n k*ff*r op straat sit’

Skokbewerings van rassisme, korrupsie, omkopery en intimidasie in die Valke is Donderdag in die rondgaande hof in Parys gemaak.

’n Emosionele Henk Prinsloo het Donderdag aan die hof vertel hoe hy in hegtenis geneem is.Foto: Alet van der Walt

Henk Prinsloo, ’n polisieman en een van die beskuldigdes in die vigilante-moordverhoor, het aan die hof vertel hoe die Valke hom gedreig het.

Kol. Deon Topkin het glo aan hom gesê: “Jy beskerm die boere, ek sal sorg dat jy en jou gesin soos ’n boemelaar en ’n k*ff*r op straat sit.”

Prinsloo en vyf ander mans staan tereg vir die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Prinsloo het getuig hy is deur die Valke, onder leiding van kapt. Francois Laux en Topkin, gedreig omdat hulle wou hê hy moet ’n verklaring aflê waarin hy die ander beskuldigdes se optrede die aand van die beweerde aanrandings uiteensit.

“Elf lede van die Valke het met gemerkte voertuie by my huis opgedaag en my voor my ma, my vrou en my twee dogters in hegtenis geneem,” het Prinsloo getuig.

Hy was emosioneel toe hy aan regter Corné van Zyl vertel het hoe die gebeure hom en sy gesin geraak het.

Adv. Jabulani Mlotshwa, vir die staat, het aan Prinsloo gevra waarom ’n ander polisielid, ene sers. Gerhard Keyser, gesien het die mans se toestand is ernstig, terwyl Prinsloo nie so gedink het nie.

Henk Prinsloo getuig in die vigilante-moordverhoor in Parys. By hom is die hoftolk, Jeremiah Tollie.Foto: Alet van der Walt

Prinsloo het gesê hy het nie gedink die mans is in lewensgevaar nie.

Mlotshwa wou weet waarom drie mense gesê het hulle het gesien hoe hy een van die verdagtes met ’n skokapparaat skok, en Prinsloo dit ontken.

Prinsloo het gesê Tom Direko, ’n staatsgetuie, is saam met sy werkgewer van die diefstal van spoorstawe aangekla.

Adv. Jabulani Mlotshwa, vir die staat, neem Henk Prinsloo onder kruisverhoor. Foto: Alet van der Walt

Kort nadat Direko ’n verklaring oor Prinsloo afgelê het, is die diefstalklagte teruggetrek.

Hy glo die Valke en een van die ander getuies het ook ’n ooreenkoms aangegaan terwyl Ockert van Zyl deurgaans gelieg en gespog het dat hy ’n aandeel in die moorde gehad het.

Die beskuldigdes en verskeie ander mans het Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 ná ’n beweerde plaasaanval buite Parys aangekeer. Hulle het Loedie van der Westhuizen sr. te hulp gesnel nadat hy ’n noodknoppie gedruk het.

Tjixa en Jubeba is na bewering so erg aangerand dat albei die volgende dag dood is.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Valke  |  Samuel Tjixa  |  Kol. Deon Topkin  |  Henk Prinsloo  |  Simon Jubeba  |  Parys-6
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.