Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Lykskouing se verslag is glo bisar

Die moontlikheid dat die verkeerde lykskouingsverslag in die hof bespreek is, of dat die lyke in die staatslykhuis omgeruil is, het Dinsdag in die vigilante-moordverhoor in Parys ter sprake gekom.

Prof. Jan Botha, ’n afgetrede forensiese patoloog, het Maandag en Dinsdag vir die verdediging in die vigilante-moordverhoor in Parys getuig. Foto: Alet van der Walt

Prof. Jan Botha, ’n afgetrede forensiese patoloog, het in sy hoofgetuienis gesê hy vind die verskille tussen die kliniese verslag, die nadoodse ondersoek en foto’s van die oorledene se skedel “bisar”.

Botha getuig vir die verdediging in die verhoor van ses mans van die dorp wat daarvan aangekla word dat hulle twee vermeende plaasaanvallers, Samuel Tjixa en Simon Jubeba, vermoor het.

Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie 2016 deur ’n groep mans aangekeer en is die volgende dag dood.

Dr. Buang Lairi wat die lykskouing gedoen het, het in 2017 vir die staat getuig.

’n Kliniese verslag, wat X-strale en ’n skandering insluit, het geen skedelbreuk aangedui nie, maar op ’n foto wat die staat beweer van Jubeba se skedel is, is ’n duidelike kopwond.

Botha het in kruisondervraging deur die aanklaer, adv. Jabulani Mlotshwa, gesê selfs ’n leek kan sien daar is ’n erge kopwond en dat die skedel gebreek het.

Mlotshwa het aan Botha gevra of hy bewus is daarvan dat spesialiste bevind het daar was nie skedelbreuk nie, waarop Botha gesê het hy is bewus daarvan.

Botha het volgehou die gapende kopwond is nie versoenbaar met die lykskouingsverslag en die kliniese verslag van die oorledene nie.

Op ’n vraag of die wond deur mediese ingryping toegedien kon wees het Botha gesê die hare sou geskeer gewees het en daar sou perfekte ronde gaatjies in die skedel geboor wees. Dié prosedure word soms gedoen om die drukking te verlig wanneer ’n pasiënt bloeding op die brein het.

Die Parys-6 se regsverteenwoordigers is van links: Johan Myburgh, adv. Piet Pistorius, Johan Vorster, adv. Dawie Reyneke en adv. Hennie du Plessis. Foto: Alet van der Walt

Lairi het voorheen gesê dit kan wees dat die gat in die skedel die gevolg is van mediese ingryping.

Die beëdigde verklaring van Riaan Swart, ’n voormalige beskuldigde wat ingevolge ’n pleitooreenkoms gevonnis is, is Dinsdag by die hof ingedien.

Die verhoor sal Woensdag voortgesit word wanneer Henk Prinsloo, ’n polisielid en beskuldigde drie, sal getuig.

Adv. Sandile Mthethwa kla saam met Mlotshwa aan.

Johan Myburgh en adv. Piet Pistorius tree namens Boeta van der Westhuizen op, Johan Vorster tree vir Anton Loggenberg op, adv. Dawie Reyneke verdedig Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen en adv. Hennie du Plessis tree namens Miela Janse van Vuuren op.

Regter Corné van Zyl hoor die saak aan.

Meer oor:  Samuel Tjixa  |  Simon Jubeba  |  Parys-6
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.