Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Polisielid getuig hy het mans probeer lawe

Henk Prinsloo, ’n polisielid, het Woensdag in die rondgaande hof in Parys onder meer vertel dat hy die twee vermeende plaasaanvallers probeer lawe het op die toneel waar hulle in hegtenis geneem is.

Prinsloo (beskuldigde drie) in die vigilante-moordverhoor, was op 6 Januarie 2016 van diens toe hy gehoor het van die aanval by Loedie van der Westhuizen se plaas.

Henk Prinsloo, ’n polisielid en beskuldigde drie in die vigilante-moordverhoor, wys aan die hof waarmee ’n polisielid uitgereik word. In die agtergrond is die hoftolk, Jeremiah Tollie.Foto: Alet van der Walt

Prinsloo het weer aan diens gegaan en op die toneel opgedaag waar twee verdagtes in hegtenis geneem is.

Samuel Tjixa (28) en Simon Jubeba (37) het agterop Anton Loggenberg (beskuldigde twee) se bakkie gelê.

Prinsloo het getuig dat die een man met rug sy teen die kajuit van die bakkie gesit het en die ander een het plat gelê.

“Ek het met hulle probeer praat, maar hulle het nie gereageer het nie.”

Hy het hulle met ’n flitslig in die sy gepor.

Hy het aan die hof die flitslig gewys waarmee polisielede uitgereik word en ontken dat hy ’n skokstok op die twee mans gebruik het.

Henk Prinsloo wys aan die hof die twee flitsligte wat hy op misdaadtonele gebruik. Foto: Alet van der Walt

Die staat se getuies het vroeër getuig dat Prinsloo die een man met ’n skokstok op sy geslagsdeel geskok het.

Ockert van Zyl het Prinsloo en Boeta van der Westhuizen se optrede teenoor die een man as “twee honde op ’n haas” beskryf.

Prinsloo het getuig albei mans se oë was toegeswel en hul lippe opgeswel. Daar was bloed om hul mond en neus, maar hy het nie ander kopwonde gesien nie.

Prinsloo is hierna terug na die polisievoertuig waar hy water gaan haal het om hulle te lawe. Prinsloo het albei mans se bolyf natgemaak.

Hy het aan die mans gevra waar die vuurwapen is. Die man wat agter gelê het, het na die ander man gewys en aan Prinsloo gesê “hy het dit in baas Vickie se lande weggegooi”.

Dieselfde man het om water gevra. Prinsloo sê hy het die man se kop met sy linkerhand opgelig en met sy regterhand vir hom water uit ’n bottel gegee. Die man het verstik waarna hy en Boeta van der Westhuizen die man op sy sy gedraai het. Water en bloederigheid het by die man se mond uitgekom.

Op ’n vraag van Dawie Reyneke, Prinsloo se advokaat, het Prinsloo gesê hy kon sien die mans is beseer, maar het nie gedink hulle verkeer in lewensgevaar nie.

Prinsloo het later die aand die toneel volgens polisieprotokol aan lt. Gerhard Bruwer oorhandig en gery.

Loggenberg het Woensdag ’n erkenning van skuld ingevolge art. 220 by die hof ingedien. Loggenberg erken dat hy die een man ’n klap gegee het en die ander een geskop het.

Die ander drie beskuldigdes is Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen jr. en Miela Janse van Vuuren.

Die verhoor duur voort.

Regter Corné van Zyl hoor die saak aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.