Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: ‘Polisielid het nie gemoor’

Die staat erken dat beskuldigde nommer drie in die Parys-moordverhoor, Henk Prinsloo, nie aan moord skuldig bevind kan word nie, het die staatsaanklaer, adv. Jabulani Mlotshwa, Dinsdag in sy slotbetoog in die rondgaande hof in Parys gesê.

Mlotshwa het egter aan regter Corné van Zyl gesê Prinsloo het sy plig as polisielid versuim en daarom was hy nie eerlik toe hy getuig het nie.

Hy het Prinsloo se getuienis bevraagteken dat hy gedink het die oorledenes, Samuel Tjixa (28) en Simon Jubeba (37), lê agterop ’n bakkie en slaap.

Prinsloo moes selfs die een man help om water te drink, maar het getuig hy het nie gedink hulle is ernstig beseer nie.

Mlotshwa het gesê dit maak nie sin nie.

Hy het gesê Prinsloo het van die ander getuies weerspreek en dat sy getuienis in die hof ook verskil het van sy oorspronklike verklaring.

Mlotshwa het vroeër gesê dat dr. Jan Botha, ’n forensiese patoloog, te kenne probeer gee dat dr. Buang Lairi, ’n staatspatoloog, dom is.

Botha het vir die verdediging getuig en gesê Lairi se patologiese verslag is swak opgestel.

Botha het ook gesê hy vind die verskille tussen die lykskouingsverslag en die foto’s van die een oorledene bisar.

Die patologiese verslag het nie melding gemaak van skedelbreuk nie, maar ’n foto van die oorledene se skedel dui ’n breuk aan.

Lairi kon nie verduidelik waarom dit so is nie.

Botha het gesê hy glo die verslag is moontlik van ’n ander lyk.

Mlotshwa het aan die hof gesê moontlike swak mediese behandeling in die hospitaal, wat tot die mans se dood kon lei, kan nie die beskuldigdes vrywaar van ’n moordklag nie.

Die verhoor spruit uit die moorde op Tjixa en Jubeba in Januarie 2016.

Loedie van der Westhuizen, ’n bejaarde boer van die Weiveld-gebied buite Parys, is glo op die dag deur twee of drie mans by sy plaashuis aangeval.

Van der Westhuizen het ’n noodknoppie gedruk waarna talle mense hom te hulp gesnel het.

Die twee mans is op ’n buurplaas aangekeer en volgens die staat so erg aangerand dat hulle die volgende dag dood is.

Die ander beskuldigdes is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen jr. en Miela Janse van Vuuren.

Meer oor:  Samuel Tjixa  |  Henk Prinsloo  |  Simon Jubeba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.