Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Regspan onttrek ná Boeta se getuienis

Emosionele tonele het Woensdag buite die rondgaande hof in Parys afgespeel toe die sogenaamde Parys-6 se regspan hulle aan die saak onttrek het.

Die beskuldigdes in die vigilante-moordverhoor en hul gesinne sê hulle is verslae oor die gebeure wat tot die regspan se onttrekking aan die saak gelei het.

Die ses, Boeta van der Westhuizen (48), Anton Loggenberg (51), Henk Prinsloo (48), Cor Loggenberg (21), Loedie van der Westhuizen (20) en Miela Jansen van Vuuren (24), sal almal nou nuwe regsverteenwoordigers moet aanstel.

Hannes Grimbeek, adv. Koenie Pieterse en Kobus Burger het hulle Woensdag aan die vigilante-moordverhoor in Parys onttrek. Hulle het namens die beskuldigdes opgetree. Foto: Alet van der Walt

“Ons kom al ’n pad van meer as twee jaar saam met hulle, dit is baie moeilik vir ons almal,” sê Rikki van der Westhuizen, Boeta se vrou.

Adv. Koenie Pieterse het aan die hof gesê dit sal onbehoorlik wees van die regspan om langer die mans te verteenwoordig.

Gideon Mandelstam, wat net vir Boeta van der Westhuizen (48) verteenwoordig, sal aanbly as sy opdraggewende prokureur.

Pieterse het namens al ses mans as advokaat in die rondgaande hof in die vigilante-moordverhoor opgetree.

Getuienis van Boeta van der Westhuizen onder kruisverhoor deur adv. Jabulani Mlotshwa, vir die staat, het tot die onttrekking gelei.

Sekere van Van der Westhuizen se getuienis sal nie met van die ander mans se weergawes ooreenstem nie en dit het tot die botsing van belange gelei.

Kobus Burger, wat Anton en Cor Loggenberg, ’n pa en seun, as prokureur verteenwoordig, asook Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren, het ook onttrek.

Hannes Grimbeek wat kapt. Henk Prinsloo verteenwoordig het ook as sy prokureur onttrek.

Mandelstam sal nou ’n ander advokaat aanstel om Boeta van der Westhuizen te verteenwoordig. Anton Loggenberg en Miela Jansen van Vuuren sal hul eie regsverteenwoordigers aanstel, terwyl Prinsloo, Loedie van der Westhuizen en Cor Loggenberg gaan aansoek doen om regshulp.

Die verhoor word sedert die eerste borgtogaansoeke deur verskeie vertragings en probleme geteister en is al deur iemand wat die verrigtinge bywoon as “vervloek” bestempel.

Die verhoor spruit uit die gebeure op 6 Januarie 2016 toe Boeta van der Westhuizen se pa, Loedie, deur twee mans op sy plaas Biesiesbult in die Weiveldgebied buite Parys aangeval is.

Van der Westhuizen het ’n noodknoppie gedruk en tientalle boere en ander mans het hom te hulp gesnel.

Samuel Tjixa en Simon Jubeba is op die buurplaas, Swartklip, in hegtenis geneem.

Hulle is volgens die staat so erg aangerand dat hulle die volgende dag weens hul beserings dood is.

Die staat het aanvanklik 13 mans van die moorde aangekla maar die saak teen Johan Cilliers sr. en Johan Cilliers jr. is laat vaar. Cilliers sr. se kleinseun, Riaan Swart, is ingevolge ’n pleitooreenkoms gevonnis.

Fanie Oosthuizen en Wian, Wikus en Müller van der Westhuizen het art. 204-getuies geword en het reeds in die verhoor te getuig.

Regter Corné van Zyl het die verhoor tot 8 Junie uitgestel wanneer die hof sal besluit op ’n nuwe verhoordatum. Die beskuldigdes en hul nuwe regsverteenwoordigers sal dan in die hof verskyn.

Meer oor:  Boeta Van Der Westhuizen  |  Regspan  |  Parys-6  |  Onttrek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.