Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Nuwe regspan ‘het enorme koste-implikasie’

Die vigilante-moordverhoor in Parys is die soveelste keer in ’n krisis gedompel toe die beskuldigdes se regspan hulle aan die verhoor onttrek het.

Adv. Koenie Pieterse, vir die verdediging, het aan regter Corné van Zyl gesê daar is ’n botsing van belange wat in Boeta van der Westhuizen, beskuldigde nommer een, se kruisverhoor aan die lig gekom het.

Van der Westhuizen se getuienis oor ’n sekere aspek van die aand se gebeure verskil van dié van die ander beskuldigdes.

Pieterse het namens al die mans in die verhoor opgetree. Drie prokureurs, Kobus Burger, Hannes Grimbeek en Gideon Mandelstam, was deel van die regspan. Net Mandelstam, wat net vir Van der Westhuizen verteenwoordig, het hom nie aan die verhoor onttrek nie.

Die beginsel van ’n billike verhoor is in die Grondwet verskans en wanneer daar ’n moontlike botsing van belange is, moet regslui altyd baie versigtig wees, sê adv. Johann Gaum, ’n regskenner van Pretoria.

Die regspan van die verdediging is van links adv. Koenie Pieterse, Kobus Burger, Gideon Mandelstam en Hannes Grimbeek. Net Mandelstam sal nog in die verhoor optree.Foto: Alet van der Walt

Hy sê ’n mens kan vra of die getuienis van Van der Westhuizen in die vigilante-verhoor in Parys wesenlik van die ander mans se getuienis verskil. As dit nie wesenlik is nie, is dit ook nie in die belang van geregtigheid dat die regspan hulle onttrek nie.

Regslui sal egter altyd eerder te versigtig wees en eerder na die veilige kant fouteer as om die beginsel van ’n billike verhoor in die gedrang te bring.

Gaum sê wanneer een regsverteenwoordiger namens meer as een beskuldigde optree en daar is getuienis wat verskil, kan hy nie meer in die beste belang van almal optree nie.

Adv. Pieterse het in die vigilante-verhoor met al sy kliënte gekonsulteer en het vertroulike inligting van meer as een kliënt gekry wat hy nou weens die weerspreking nie in kruisverhoor kan gebruik nie, tensy hy dan van sy ander kliënte benadeel.

Kragtens wetgewing moet dit vir almal wat by die verhoor betrokke is, lyk asof dit ’n billike verhoor is. Sodra daar vrae oor die billikheid van ’n verhoor is, kan dit ook in appèlaansoeke ’n groot rol speel en ’n herverhoor kan selfs gevra word as dit blyk dat die verhoor onbillik is.

Gaum sê ’n gebeurtenis soos hierdie het enorme koste-implikasies vir die beskuldigdes. Die oorkondes van die verhoor moet aangevra word en die nuwe regspan het tyd nodig om dit te bestudeer.

Dit kos alles geld, sê hy.

“Dit is ’n baie moeilike situasie vir die beskuldigdes, maar dit kan nie anders nie,” sê Gaum.

Gaum sê die Parys-verhoor kan nou nog langer duur. “Die nuwe regslui is daarop geregtig om ook van die staat se getuies weer te kruisondervra as hulle voel daar is vrae wat die vorige regspan nie gevra het nie.”

Hy sê die gereg is swart en wit, nie grys nie en ’n regsvoorbeeld uit ’n ander verhoor bewys dit: “ ’n Man wat onder kruisverhoor was, het in die etensuur met sy regsverteenwoordiger gesels. Dit het ’n vraagteken oor die billikheid van die verhoor geplaas en dit was genoeg gronde dat ’n herverhoor moes plaasvind.”

Daar is ook die voorbeeld waar ’n landdros en ’n ondersoekbeampte saam by ’n sosiale geleentheid gesien is. Die verdediging het geëis dat die landdros homself aan die verhoor onttrek, en hy was verplig om dit te doen, sê Gaum.

Van der Westhuizen en nog vyf mans, Anton Loggenberg, Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren, word van die moorde aangekla op twee vermeende plaasaanvallers.

Die twee mans, Sameul Tjixa en Simon Jubeba, is volgens die staat ná ’n mislukte plaasaanval in Januarie 2016 so erg deur die mans aangerand dat hulle dood is.

Pieterse is die derde advokaat wat in die verhoor opgetree het. Adv. Hans de Bruin het hom weens persoonlike redes aan die verhoor onttrek. Adv. Nico Dreyer is in Januarie vanjaar dood.

Meer oor:  Parys-6  |  Onttrek  |  Botsing Van Belange  |  Regspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.