Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-6: Saak uitgestel ná plofbare getuienis

Die getuienis van een van die beskuldigdes in die vigilante-moordverhoor in Parys het tot groot omstredenheid gelei en daartoe gelei dat die verhoor uitgestel is.

Volgens ’n ingeligte het die getuienis van die beskuldigde Henk Prinsloo groot konsternasie by die direkteur van openbare vervolging (DOV) veroorsaak en daar is ooreengekom dat die verhoor, hangende ’n ondersoek, uitgestel moet word.

Tom Direko het in Mei 2018 vir die staat teen die Parys-6 getuig. Foto: Alet van der Walt

Prinsloo, ’n polisielid, het Donderdag getuig oor die Valke se optrede in hul ondersoek na die moorde op Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die twee is op 6 Januarie 2016 ná ’n mislukte plaasaanval buite Parys in hegtenis geneem. Hulle is die volgende dag in die hospitaal dood en Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren word van hul moorde aangekla.

Adv. Hennie du Plessis, vir Janse van Vuuren, het Donderdag aan Prinsloo gesê dat die Valke Janse van Vuuren gedreig het deur te sê hy sal saam met 14 misdadigers in ’n sel gegooi word.

Hy is van oortredings van die vuurwapenwet aangekla maar is onskuldig bevind, het Du Plessis gesê.

Du Plessis het Prinsloo gevra of hy ook aan intimidasie onderwerp was.

Prinsloo het gesê dat kol. Deon Topkin van die Valke hom gedreig het dat hy soos ’n k****r en ’n boemelaar op straat sal sit omdat hy die “boere” beskerm.

Adv. Jabulani Mlotshwa, staatsaanklaer, wou in kruisondervraging van Prinsloo by hom weet waarom drie mense gesê het hulle het gesien hoe hy een van die verdagtes met ’n skokapparaat skok, en hoekom hy dit ontken.

Henk Prinsloo in die hof. Foto: Alet van der Walt

Prinsloo het geantwoord hy glo dat die mans wat dit gesê het, redes het waarom hulle lieg.

Hy sê die getuie Ockert van Zyl het deurgaans gelieg en selfs gespog en valslik beweer dat hy ook ’n aandeel in die moorde het.

Prinsloo het gesê hy meen dat Tom Direko, ’n staatsgetuie en gewese polisiereservis, gegrief is omdat hy hom moes ontslaan omdat hy (Direko) nie die voorgeskrewe diensure per maand voltooi het nie.

Prinsloo het verder getuig dat Direko en sy werkgewer aangekla is van die diefstal van spoorstawe en dat dié saak skielik teruggetrek is kort nadat Direko bereid was om ’n verklaring oor Prinsloo af te lê.

Dit is dié bewering asook die verdwyning van die polisie se voorvalleboek waarin die plaasaanval aangeteken is, wat nou deur die DOV ondersoek sal word.

Die verhoor voor regter Corné van Zyl word Maandag hervat.

Meer oor:  Henk Prinsloo  |  Parys-6  |  Hofsaak  |  Uitgestel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.