Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Parys-verhoor ‘dalk gouer afgehandel’

Die marathonverhoor van die sogenaamde Parys-6 kan moontlik nou teen ’n vinniger pas beweeg.

Die staat en die verdediging se regspanne het regter Corné van Zyl Dinsdag in die rondgaande hof genader en versoek dat Boeta van der Westhuizen, beskuldigde nommer een, Woensdag deur die ander beskuldigdes se regspanne onder kruisverhoor geneem kan word.

Boeta van der Westhuizen, beskuldigde nommer een, sal Woensdag deur sy medebeskuldigdes se regspanne onder kruisverhoor geneem word.Foto: Alet van der Walt
Van Zyl het die verhoor tot Woensdagoggend uitgestel en gesê die verdediging en die staat voer aan bewyse kan moontlik gelewer word wat die verhoor drasties kan verkort. 

Die verdediging glo dié stap kan daartoe lei dat die verhoor vinniger afgehandel word.

Die vigilante-moordverhoor van die ses mans, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren duur al drie jaar.

Dit spruit uit ’n voorval op 6 Januarie 2016 toe Loedie van der Westhuizen sr., Boeta van der Westhuizen se pa, op sy plaas buite Parys aangeval is.

Tientalle mans het hulle na die gebied gehaas en Sameul Tjixa (27) en Simon Jubeba (37) is aangekeer.

Tjixa en Jubeba is later aan hul beserings dood en die staat voer aan die ses mans het die twee so erg aangerand dat hulle dood is. 

Van der Westhuizen, wat reeds in Mei verlede jaar begin getuig het, is Dinsdagoggend verder deur adv. Jabulani Mlotshwa, namens die staat, onder kruisverhoor geneem.

Van der Westhuizen het erken dat hy Jubeba teen die bors geskop het, twee houe met die vuis geslaan het en toe ook met ’n handwapen geslaan het.

Van der Westhuizen het getuig dat hy Jubeba geslaan het om te probeer uitvind waar die vuurwapen is waarmee sy pa, Loedie sr., aangeval is. 

Mlotshwa het aan Van der Westhuizen gesê Ockert van Zyl het voorheen getuig dat hy, Van der Westhuizen en Henk Prinsloo “soos twee honde op ’n haas” was en dat dit beslis nie ’n teepartytjie was nie.
Van der Westhuizen het gesê net een van die vuishoue het Jubeba getref omdat hy die ander hou afgeweer het.

Die vuurwapen het aan stukke gespat toe hy Jubeba daarmee geslaan het.

Van der Westhuizen het op ’n vraag van Mlotshwa gesê Jubeba het bloed aan sy hemp gehad en hy het gedink dit is omdat sy pa se honde die twee mans dalk gebyt het.

Van der Westhuizen het gesê Jubeba het nie beserings opgedoen weens sy optrede nie, maar het erken dat hy geweet het hy oortree die wet deur iemand aan te rand.

’n Ruk nadat Van der Westhuizen Jubeba geslaan het, is Jubeba en Tjixa agter op ’n bakkie gelaai.

Jubeba het toe glo aan Van der Westhuizen gesê hy het die vuurwapen in die dam naby Vickie van der Westhuizen se lande gegooi.

Mlotshwa het aan Van der Westhuizen gesê Ockert van Zyl het voorheen getuig dat hy, Van der Westhuizen en Henk Prinsloo “soos twee honde op ’n haas” was en dat dit beslis nie ’n teepartytjie was nie.

Van der Westhuizen het dit ontken.

Van der Westhuizen het op ’n vraag van Mlotshwa gesê hy het nie gesien dat beskuldigde nommer twee, Anton Loggenberg, iets aan een van die mans doen nie.

Van die staat se getuies het vroeër getuig dat Loggenberg op die een man se kop getrap het.

Die mans ontken skuld.

Meer oor:  Boeta Van Der Westhuizen  |  Vigilante-Moordverhoor  |  Parys-6  |  Verhoor  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.