Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Patel ‘weet nie waar krapmerke aan nek vandaan kom’

Rameez Patel (33) weet nie waar hy die krapmerke aan sy nek opgedoen het ses jaar gelede toe sy eerste vrou, Fatima (28), in die egpaar se meenthuis in Polokwane vermoor is nie.

Patel se verhoor het Dinsdag in die hooggeregshof in Polokwane hervat.

Fatima is op 10 April 2015 in die egpaar se meenthuis in die Nirvana-woonbuurt vermoor. Sy is eers met ’n krieketkolf oor die kop geslaan, toe gewurg en daarna op kort afstand in die gesig geskiet.

Fatima en Rameez Patel. Fatima is in 2015 in Polokwane vermoor.

Adv. Letoabo Mashiane, staatsaanklaer, het tydens kruisondervraging vir Patel gevra of hy bewus was van die krapmerke aan sy nek op die dag dat Fatima dood is.

Patel het gesê hy het dit gesien toe hy op 10 April – nadat hy op Fatima se bebloede lyk afgekom het – in ’n spieël gekyk het by sy oom se huis, waar hy gestort het.

“Ek het nie geweet waar of hoe ek die krapmerke gekry het nie.”

Mashiane het aan die hof gesê volgens getuienis van die staatspatoloog was daar bewyse wat gedui het op ’n struweling tussen Fatima en Patel voordat sy geskiet is.

“Dit is die staat se saak dat slegs Fatima en Patel daardie middag in hul meenthuis was,” het Mashiane gesê.

Rameez en Fatima Patel.

Patel ontken skuld en hou vol dat booswigte by die meenthuis ingebreek en sy vrou vermoor het.

Hy het nadat hy op Fatima afgekom het die nooddienste ontbied. Terwyl hulle daar was, is hy na ’n oom van hom se huis, waar hy gestort en skoon klere aangetrek het om betyds te wees vir die Moslem-aandgebede.

Mashiane het Patel Dinsdag ook met vrae gepeper oor ’n bruin baadjie wat hy op die dag van die moord aangehad het, maar nie aan die polisie oorhandig het nie.

Die polisie het die baadjie eers ’n paar dae later by ’n oom van hom se huis in Polokwane gekry. Die baadjie was steeds nat nadat dit gewas is.

Patel het gesê hy is ’n “doodgewone lid van die publiek” en hy het nie geweet dat hy elke kledingstuk, soos kouse, skoene, onderklere en die bruin baadjie aan die polisie moes oorhandig nie.

Nasreen en Rameez Patel (33) Dinsdag in die hooggeregshof in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens
Nasreen en Rameez Patel. Foto: Marietie Louw-Carstens

Regter Joseph Raulinga het aan hom gesê hy vind dit moeilik om te glo. “Nee, mnr. Patel, enigiemand wat tot en met gr. 8 (st. 6) op skool was, sal weet wat met ‘klere’ bedoel word om aan die polisie te oorhandig.”

Patel is in 2015 in die landdroshof in Polokwane op borgtog van R250 000 vrygelaat, maar hy is in September 2017 in hegtenis geneem nadat sy ma, Mahejeen (52), doodgeskiet is. Sy is in Augustus 2017 in haar kop geskiet in haar huis in die Nirvana-woonbuurt.

Die staat voer aan Patel het glo ’n huurmoordenaar betaal om sy ma te vermoor. Dié verhoor begin in Augustus in die hooggeregshof in Polokwane.

Patel is in Augustus 2020 in die landdroshof in Polokwane op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hy die afgelope drie jaar in die Polokwane-gevangenis in aanhouding was weens die moord op sy ma.

Die verhoor oor Fatima se moord duur voort.

Meer oor:  Fatima Patel  |  Rameez Patel  |  Polokwane  |  Krapmerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.